Mnr. en Mej. Oosskool fokus op gemeenskap

Die wenners van Mnr. en Mej. Oosskool was deel van 14 leerders wat gekies is as finaliste, en nes die 12 ander het hulle hard gewerk om 'n verskil in die gemeenskap te maak.

POLOKWANE – Viané Joubert en Levi van Niekerk spog vanjaar met die titel as Mnr. en Mej. Oosskool.

Dié twee was deel van 14 leerders wat gekies is as finaliste, en nes die 12 ander het hulle hard gewerk om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Die finaliste is reeds aan die einde van die tweede kwartaal aangewys en hulle werk dan met verskeie projekte in die derde kwartaal.

Volgens die organiseerder, Michelle van der Westhuizen, is daar verskillende instansies of projekte aan elke finalis paar toegeken.

“Die finaliste moes die instansies kontak om vas te stel wat die behoefte is. Daarna moes hul aan maniere dink om in hierdie behoeftes te voorsien. Daar is ook ‘n graadgroep aan elke paar toegeken om te help met die projek, hetsy deur insamelings, fisiese arbeid by die instansie of ander maniere waarop hulp benodig word.”

Die instansies was:

• SAVF Martha Hofmeyr: Tyron Engelbrecht en Beandri Redelinghuys.

• Nuwe Begin Kleuterskool: Janco Smit en Sadie Jacobs.

• Tough Living with Cancer (TLC)-saal by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal: Elsabé Janse van Rensburg en Hanru Botha.

• DBV: Viané Joubert en Raymond Verster.

• Ngwana Babahuis: Karla van den Bergh en Levi van Niekerk.

• Club21 en La Wiida: Damian Sibley en Anja Roux.

• Aretha Tehuis: Wihan Deyzel en Cristelle Swanepoel.

“Tydens die kroningsaand tel die impak op die instansie, kreatiwiteit en inisiatief asook die aanbieding van die projek 50% van die totale punt. Die ander 50% bestaan uit punte vir persoonlikheid, selfvertroue, algehele voorkoms, die antwoord op ‘n vraag aan hulle gestel deur die beoordelaars, en algehele indruk.”

Juffrou Michelle sê hulle is ongelooflik dankbaar vir die gemeenskap wat uit hulle pad gegaan het om hierdie finaliste se projekte te ondersteun.

“Daar is voorwaar mense met groot harte wat nie skroom om betrokke te raak sodra die geleentheid opduik nie. Hierdie projek bly altyd ‘n groot hoogtepunt op die Osiekalender want dit is hier waar ons as Osies die geleentheid kry om te kan teruggee uit dankbaarheid vir dit wat ons daagliks deur genade ontvang en alles wat ons het om voor dankbaar te wees.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version