Schools

PHS stap vir IsAbility

IsAbility is 'n geregistreerde organisasie sonder winsbejag, wat bewustheid skep deur geleenthede vir atlete met gestremdhede om op provinsiale, nasionale en internasionale vlak deel te neem.

POLOKWANE – Om behoorlik te kan sien is ‘n voorreg wat mense soms as vanselfsprekend aanvaar – jy besef dikwels eers die belangrikheid van hierdie sintuig wanneer jy nie meer 100% visie het nie.

Mnr. PHS, Zarich Lourens en Mej. Fotogenies, Joné Potgieter het vanjaar IsAbility Sportklub, ‘n klub wat gestremde atlete help om te presteer, gekies as hulle liefdadigheidsprojek.

IsAbility is ‘n geregistreerde organisasie sonder winsbejag, wat bewustheid skep deur geleenthede vir atlete met gestremdhede om op provinsiale, nasionale en internasionale vlak deel te neem.

Zarich en Joné het verlede week van die geleentheid gebruik gemaak om geld in te samel wat hulle aan die organisasie kon oorhandig.

PHS se leerders kon in twee spanne om die baan hardloop, met ‘n kinkel: Een spanlid moes geblinddoek word, en dan deur die ander een gelei word. Voor dit egter kon plaasvind, was daar eers ‘n 100m pretdraf waaraan die gaste en Zarich en Joné deelgeneem het.

Gaste wat die dag saam met die leerders deurgebring het, het para-olimpiese atleet Louzanne Coetzee en haar gids Claus Kempen, IsAbility verteenwoordigers Sandy en Chris James asook Lucas Maiteke, Liezel Gouws en Sheryl James ingesluit.

Leerders van die Rivoni School for the Blind, Siloe School for the Blind, Bosele Special Needs School en Letaba School for the Disabled was ook teenwoordig.

Beide Louzanne en Claus het vir die leerders van hulle ondervinding om saam te hardloop, vertel. “Neem elke geleentheid wat na jou kant toe kom aan en onthou jy het altyd keuses, jy kan kies hoe jy op iets reageer,” het Coetzee opgemerk.

Kempen het vertel hoe baie hy by haar geleer het en die leerders aangemoedig om nou al te begin om ‘n verskil te maak.

Die geld wat aan IsAbility oorhandig is, gaan aangewend word vir die regte klassifikasie van blinde atlete.

Volgens Sandy word atlete geklassifiseer volgens die graad van blindheid.

“Die T11-atlete is totaal blind en moet ‘n gids hê. T12-atlete kan ‘n bietjie sien en kan kies of hulle met of sonder ‘n gids wil hardloop. T13-atlete het nie ‘n gids nie aangesien hulle die minder ernstige siggestremdhede het.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button