Schools

Redenaar Katlego (17) hoú van Afrikaans

Dié gladdebek gr. 11-leerder by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Katlego Moloto, het vanjaar vir die vierde keer aan die landswye ATKV Redenaarskompetisie deelgeneem.

POLOKWANE – Katlego Moloto (17) se huistaal is Sepedi en hy gaan in Engels skool, maar dit verhoed hom nie om sy pad in Afrikaans oop te redeneer nie. Dié gladdebek gr. 11-leerder by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het vanjaar vir die vierde keer aan die landswye ATKV Redenaarskompetisie deelgeneem.

“Kultuur was nog altyd ‘n groot deel van my menswees en ek voorsien dat dit in die toekoms steeds so gaan wees. Ek het reeds in gr. 6 met redenaars begin en verlief geraak op die wonderlike taal en hoe magies en magtig dit is. Ek het egter eers in gr. 9 aan ATKV Redenaars begin deelneem. Dit is my passie om mense in my denkrigting te probeer stuur.”

Katlego erken hy het in die verlede goed gevaar met die redenaars, maar is hierdie jaar ekstra trots op homself. Sy prestasie in gr. 9 het hom gemotiveer om hard te werk – tot waar hy vanjaar in die top drie in die afdeling nie-huistaal, onvoorbereid is.

Hy beskryf sy ervaring by die ATKV Redenaarskompetisie as ongelooflik.

“Ek het nie net by myself geleer nie, maar ook by ander sprekers. Ek het geleer dat ‘n onderwerp vanuit verskillende hoeke aangepak en op verskillende maniere uitgevoer kan word. Verder het ek geleer dat redenering inderdaad ‘n groot rol in ons lewens speel en ‘n groot invloed op besluitneming speel.”

Katlego het uitgeblink in die onvoorbereide afdeling en sê hy het slegs 90 minute gehad om voor te berei. Daarna moes hulle vir drie tot ses minute hulle punt beredeneer.

“Ek moes kies tussen ‘energiekoeldrank moet in skole verbied word’ en ‘energiekoeldrank moet nie in skole verbied word nie’. Ek het besluit om die kies dat dit nie verbied moet word nie. Ek het my argumente op drie standpunte gebaseer: Dit sal leerders die energie gee om bewus, aktief en oplettend te wees, in hulle omgewing en tydens hulle besluitnemings-prosesse. Verder het ek geredeneer dat die wins wat gemaak word met die verkoop van die koeldrank, skole opgeknap kan word in terme van infrastruktuur. Laastens het ek gereken die blikkies en bottels kan herwin word, in plaas daarvan om myne te omskep, wat ‘n negatiewe invloed op die omgewing het.”

Welgedaan, Katlego!

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button