PHS-leerder se dood betreur

Die gr.9-leerder is vandag beskryf as 'n goue kind met 'n diamanthart.

Die PHS-gemeenskap is vandag in rou na die skielike afsterwe van ‘n gr.9-leerder aan dié skool, Dietrich Scholtz.

PHS-skoolhoof, Adolf Ellis het in ‘n skrywe die skool se medelye oorgedra.

Hy het leerders gerusgestel dat hulle gevoelens van hartseer, verlies en verwarring, normaal is en hulle aangemoedig om met mekaar te praat, en ondersteuning te soek by hulle ouers, die skool se berader, onderwysers of ander volwassenes wat hulle kan help om hulle emosies in dié moeilike tyd te verwerk.

“Dit is belangrik om na mekaar om te sien en om empatie en vriendelikheid te betoon. Ons skoolgemeenskap is ‘n veilige hawe waarbinne julle ondersteuning en liefde kan vind. Reik uit. Daar is geen twyfel dat ons in die komende dae, weke en maande deur ‘n proses van rou en herstel sal gaan. Mag ons mekaar bemoedig en mekaar ondersteun, terwyl ons saam hierdie pad loop. Ons sal die herinneringe aan ons geliefde Dietrich in ons harte dra en ons sal hom nooit vergeet nie.”

Me. Ilze Malan, die gr.9-graadhoof, het in ‘n huldeblyk geskryf Dietrich was ‘n goue kind met ‘n diamanthart.

“Dis so ‘n donker dag vir PHS. My gemoed is swaar en seer om te rou oor die ‘goofy’ glimlag. Sy stoel is nou leeg. Dietrich, ek wens jy kon jouself deur my oë sien!”
Review betoon medelye met die Scholtz-gesin in dié tyd.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version