Tommies se Hugo is ‘n gimnas in murg en been

Hugo, 'n leerling van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en reeds 'n jarelange gimnas by Gymstars Gymnastics, het reeds nege jaar gelede met gimnastiek begin.

POLOKWANE – Dit is met diepe konsentrasie wat Hugo du Plessis (13) op die mat voor die rekstok staan. Dan, gefokus, stap hy nader voor hy met hulp die rekstok vasvat. Byna onmiddellik begin hy met sy roetine, hy weet dit is die lekkerste deel van enige kompetisie vir hom.

Hugo, ‘n leerling van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en reeds ‘n jarelange gimnas by Gymstars Gymnastics, het reeds nege jaar gelede met gimnastiek begin.

“My ma en Tannie Laan (Lelanie Logtenberg, eienaar en hoofafrigter van Gymstars) was vriende en so het ek betrokke geraak by die klub. Ons oefen so vyf keer ‘n week en baie Saterdae ook. Ek kan nie aan iets dink wat sleg is van gimnastiek nie, maar as ek een oefeninge kan vermy, sal dit die vloer-item wees.”

Hugo is tans op vlak vyf en het gedurende die naweek van 4-5 Augustus in Modimolle aan die Waterberg Gimnastiekkompetisie deelgeneem. Hy word nie net aangewys as beste vlak vyf gimnas van die dag nie, maar het ook ‘n 9.50 telling behaal op die rekstok.

Hy stap weg met ‘n verdere drie goue medaljes en twee silwer medaljes.

“Ek sal graag eendag aan die Olimpiese Spele wil deelneem. My rolmodel is Duncan Tilburn. Hy is goed in die sportsoort en ons het ‘n goeie verhouding.”

Hugo is ook ‘n rugbyspeler en draf as heelagter op die veld. Naweke oefen hy sy trampolienoefeninge by die huis, speel rugby of ontspan sommer net lekker.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version