PHS-hokkiebokkies spog met blink Noordvaaltrofee

Dié span het Noordheuwel Saterdag in die finale ronde van die A-liga Noordvaal hokkiereeks getroef met 3-2 in 'n senutergende agt-sekonde-uitspeelbeurt na die wedstryd in 'n telling van 1-1 geëindig het.

POLOKWANE – Vir ‘n beter einde aan die hokkieseisoen kon hulle beslis nie vra nie.

So gesels PHS se eerstemeisiespanafrigter, Corné Craig na die meisies se segetog in die Noordvaalreeks – dis die eerste keer in 30 jaar dat dié beker sy pad Polokwane toe vind.

Saam met mede-afrigter Marilize Müller en die groter PHS-gemeenskap, kan hulle nie méér trots wees op hulle hokkiebokkies nie.

Dié span het Noordheuwel Saterdag in die finale ronde van die A-liga Noordvaal hokkiereeks getroef – met 3-2 in ‘n senutergende agt-sekonde-uitspeelbeurt na die wedstryd in ‘n telling van 1-1 geëindig het.

“Dit was ‘n mengsel van verligting, oorweldigende trots en die emosionele besef dat dit ons laaste toer en wedstryd saam as ‘n span was. Ons kon nie vir ‘n beter einde vra nie.”

Craig meen daar is verskeie faktore wat bygedra het tot die span se sukses.

“Ontelbare oefeninge se harde werk regdeur die seisoen, die inkoop in nuwe strukture en idees van die afrigtingspan af, en ‘n sterk senior groep in die vorm van ons gr. 12’s – maar die grootste impak in hierdie span het van die veld self af gekom. Hulle ondersteuning en omgee vir mekaar het die span so mooi saamgebring. Dit het die kameraadskap in die span gebou en hulle gelei tot ‘n storieboekeinde met ‘n Noordvaalbeker.”

Craig sê verder die eindstryd het die meisies se vernuf en uithouvermoë behoorlik op die proef gestel.

“Noordheuwel was nog altyd sterk kompetisie en het hulle gedruk tot die laaste sekonde. Ons het voor geloop vir ‘n groot deel van die wedstryd en toe Noordheuwel hulle gelykmaker aanteken in die laaste vyf minute, was dit die agt-sekonde-uitspele wat die wedstryd moes beslis.”

Jannieke Kruger en Elandri Geldenhuys het die wedstryddoele aangeteken, terwyl Anmari Grobler in die uitspele geskitter het.

“Die spelers van die toernooi was Jannieke, wat ses doele aangeteken het tydens die reeks en Malinda Swart, die doelwagter, wat slegs vier doele afgestaan het in die hele toernooi – die minste van al die doelwagters wat deelgeneem het.”

‘n Trotse skoolhoof, Adolf Ellis, het die span en afrigters geloof vir hulle oorwinning.

“Julle is elkeen op julle eie beskeie manier ‘n bron van trots en inspirasie vir my en vir PHS. Julle het ‘n ongelooflike prestasie behaal. Mag hierdie oorwinning net die begin van nog vele suksesse wees en mag julle altyd volhard en glo in julle vermoë. PHS vier die beker saam met julle en is opgewonde oor die toekoms van die skool se hokkiespanne. Hou aan om die groen, die rooi en die blou van Hoërskool Pietersburg hoog te hou en bly strewe na uitnemendheid. Julle is ware kampioene, mag hierdie prestasie julle altyd bybly.”

PHS se ander poelwedstryde:

• Klop Hoërskool Hugenote 3-0.

• Klop Midstream College 4-0.

• Verloor teen Potch Gimnasium 2-1.

PHS eindig tweede in die poel, en kom in die kwarteindstryd teen Hoërskool Waterkloof te staan wat die spit afbyt met 1-0.

In die halfeindstryd troef PHS Hoërskool Transvalia met 2-1.

Eindstryd: PHS klop Hoërskool Noordheuwel in ‘n agt-sekonde-uitspeelbeurt na die wedstryd eindig met ‘n telling van 1-1.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version