Pieties op die planke in tienertoneel

Die aand is aangebied in voorbereiding vir die toneelseisoen wat hierdie week afskop.

POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg se Tienertoneel-groep het die gehoor laat lag, laat huil en beslis geskok tydens drie vertonings verlede Dinsdagaand.

Die aand is geopen met ‘n komedieskets, Kinders, waarvan die teks deur Marli Oosthuizen en Erica Harris geskryf is, en die regie deur Marli en Alexa Schempers behartig is. ‘n Tienerseun, Tiaan (Zarich Lourens), is skielik haweloos na sy ma se dood, en onverwags moet sy pa se meisie, Sandra (Colette Swart), wat self maar net ‘n paar jaar ouer is, en haar vriende, inspring om hom te help.

Colette Swart as Sandra in die openingstoneel van Kinders.

Ander karakters in die stuk is: Bella (Elanza Oosthuizen), Karla (Zené Petitt), Marais (Zoë Galloway) en Nick (Jaco Venter).

Volgende op die planke was ‘n hartroerende drama, Oorlewing, C-Blok waarin ‘n hawelose vrou, Denise (Ilana Lighthelm) bevriend raak met twee jongmense, Klara (Leoné van Schalkwyk) en Daniël (Anton Fick) wat in dieselfde woonstelblok bly.

Ilana Ligthelm as Denise in Oorlewing, C-Blok.

Soos die drie mekaar beter leer ken, leer hulle meer van mekaar se agtergrond en begin mekaar beter verstaan.

Erica Harris het ook dié stuk se teks geskryf en Janie Wierenga het die regie behartig. Stephan (Johan Loots) was ook deel van dié drama.

Skrywer, Joné Potgieter saam met die redakteur, Jannes van der Goot.

Om die aand af te sluit is die gehoor op ‘n reis saam met die hoofkarakter (Mia Albert) geneem in Klim, wat handel oor die hoofkarakter wat lewe gekry nadat die skrywer van ‘n boek (Joné Potgieter) gesukkel het om die laaste hoofstuk van haar boek te voltooi.

Marli Oosthuizen het die teks en regie hierin behartig, terwyl Jannes van der Goot die redakteur en kêrel se rol vertolk het.

Die hoofkarakter Mia Alberts tydens Klim.

Die aand is aangebied in voorbereiding vir die toneelseisoen wat hierdie week afskop.

PHS neem deel aan die ATKV, FAK Allegretto en Pronk Podium toneelfeeste in Gauteng.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version