Hokkie-afrigter deel Osies se S12-wenresep

Hierdié eer het Oosskool se eersteseunshokkiespan te beurt geval, toe hulle onlangs as wenners van die Super 12 seunshokkie in hulle afdeling aangewys is.

POLOKWANE – Daar neem jaarliks duisende leerders van 24 laerskole deel aan die Super 12-kompetisie, wat uit ‘n groot groep sport- en kultuuraktiwiteite bestaan.

Die kompetisie is beslis sterk, en die eer om met ‘n eerste plek te kan wegstap, is een wat deur talle afrigters en leerders nagejaag word.

Hierdié eer het Oosskool se eersteseunshokkiespan te beurt geval, toe hulle onlangs as wenners van die Super 12 seunshokkie in hulle afdeling aangewys is.

Wat hierdie sege soveel meer spesiaal maak, is dat dit so te sê ‘n nuwe span is, vertel hulle afrigter, Adri Lambrechts.

“As gevolg van die Covid-19 pandemie, was daar nie daardie jaar hokkie vir o/11’s nie. Elsie Sieburgh en Zander Human het ses van die spelers verlede jaar afgerig terwyl ek en Eddie Human die ander agt afgerig het. Ons spandeer net soveel tyd aan strategie as aan tegniek.”

Volgens Lambrechts bevorder die afrigters ‘n spaneenheid en ‘n gevoel van broederskap onder die seuns, omdat sport beslis oor karaktervorming ook gaan.

Die hokkieseisoenproewe begin gewoonlik in April en eindig teen laat-September, vertel sy, en grashokkie vereis ander vaardighede as astroturfhokkie.

“By Super 12 speel die spanne op beide gras en astro. Die liga, en Kampioen van Kampioene-kompetisie, waar al die ligawenners in Potchefstroom teen mekaar te staan kom, word ook op gras gespeel.”

Om Super 12 te wen beteken die span is ‘n suksesvolle een, en Lambrechts se definisie hiervan is wanneer die span as ‘n eenheid kan saamspeel en dit geniet.

“Wanneer hulle speel en hulle hokkievaardighede toepas, is dit ‘n sukses. Ons vat elke wedstryd soos dit kom. Jy is net so goed soos wat jy op daardie dag is. Ons sien elke wedstryd en span as ‘n opponent. Limpopo se hokkie het sterk seunspanne. ‘n Mens kan nie bekostig om enige span te onderskat nie.”

En wat is die beste kwaliteit van ‘n goeie hokkiespeler?

Nederigheid, sonder twyfel, is haar antwoord.

“Wanneer daardie eindfluitjie blaas, gaan jy op jou knieë en sê dankie vir God vir die voorreg om te kan hokkie speel, en dat daar geen beserings was nie. Daarby is ‘n kind se deursettingvermoë en die vermoë om in ‘n span te kan saamwerk, ook sleuteleienskappe,” sluit sy af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version