Brug dra gewig vir Tommie-brugbouers

Die SAICE-brugboukompetisie is reeds vir jare lank al ‘n gevestigde nasionale instelling, en drie leerders van HTS Tom Naudé het onlangs skoonskip gemaak in die plaaslike ronde.

POLOKWANE – Drie leerders van HTS Tom Naudé, Sloan van Onselen, Paswara Mapara en Malose Rasekgala, het dié skool onlangs verteenwoordig by die Suid-Afrikaanse Instelling vir Siviele Ingenieurswese (SAICE) Internasionale brugboukompetisie.

Dié kompetisie word jaarliks deur dié insteling aangebied, en is vanjaar by die Mastec Institute in Sesego gehou.

Die kompetisie het reeds sy ontstaan in 1991 gehad met die doel om hoërskoolleerders se wiskunde- en wetenskapvaardighede in ‘n ingenieurskonteks te bevorder en sodoende die beroep te laat groei.

Volgens SAICE vorm die brugboukompetisie by sommige van die skole ‘n integrale deel van die aktiwiteite en word dit op dieselfde vlak as akademiese of sportprestasies erken.

In sommige skole is dit selfs al as deel van hul kurrikulum opgeneem.

Die kompetisie is ook ‘n inisiatief om siviele ingenieurswese te bevorder en bewusmaking vir die beroep te skep.

Sowat 800 skole in die land, asook skole van Namibië, Swaziland en Zimbabwe het deelgeneem.

HTS se driemanskap het egter vir deelnemers van 19 ander skole in hulle kompetisie ore aangesit nadat die brug wat hulle gebou het ‘n gewig van 67kg kon dra.

Elke span het ‘n houer met die nodige items vir die bou van die brug gekry, en die spanne het slegs ‘n beperkte tyd gekry om die brug te bou en daar is ook tyd ingereken vir die gom om droog te word.

Daarna het die beoordelaars die brug op sy voorkoms beoordeel en ‘n punt aan elke span toegeken.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version