Schools

Amicus de Beer: Dryfhou, sethou wat ‘n ou!

Amicus skat dat hy reeds op sowat 40 gholfbane al 'n rondte gespeel het, en hy beskou die baan by San Lameer Buiteklub as verreweg die mooiste een.

POLOKWANE – Hy het ‘n gholfstok die eerste keer op sewe of agt vasgehou, en was maar skaars 10 of 11 jaar oud toe Amicus de Beer aan sy eerste gholftoernooi deelgeneem het.

Hy onthou die Tiger Woods mini-gholfstel waarmee hy daardie eerste swaaie geoefen het, en hoe hy saam met sy pa, ook ‘n gholfspeler, van putjie tot putjie geoefen het.

Vandag, hier in sy finale jaar van skool is hy onlangs aangewys as die Limpopo Hoërskolegholfkampioen, en dit is beslis ‘n prestasie waarop hy nie min trots is nie.

Hy dink terug na daardie eerste toernooi, ‘n junior ope, en merk op dat hy nie juis waffers gevaar het nie, “maar so leer ‘n mens”.

Verlede jaar het Amicus ook aan die Limpopo Hoërskole Gholfkampioenskappe deelgeneem, maar moes met ‘n tweede plek tevrede wees nadat hy teen Arno Lombaard verloor het.

Amicus skat dat hy reeds op sowat 40 gholfbane al ‘n rondte gespeel het, en hy beskou die baan by San Lameer Buiteklub as verreweg die mooiste een.

“Vir my is die maklikse baan die Kameeldoring Gholfklub op Potties, en die moeilikste een the Reading Buiteklub in die suide van Johannesburg, waar ons so paar weke gelede aan die Top Skoletoernooi deelgeneem het.”

Hy vertel dat hy vir lank deur Shaun Pappas afgerig is.

“Hy is egter oorlede, en kan nie vandag in my sukses deel nie. Maar die werk wat hy ingesit het is van onskatbare waarde.”

Die meeste sportpresteerders het besliste rolmodelle waarna hulle opkyk, en met Amicus is dit ook die geval.

“Ek kyk op na die Amerikaanse speler Jordan Spieth, en ook Scottie Scheffler. Hy het ‘n goeie houding op die gholfbaan. Die manier hoe hy oor alles in die lewe dink, asook die feit dat hy probeer om elke dag Bybel te lees, is dinge wat my inspireer.”

Daar is wel ook die kere op die baan wat Amicus, in sy eie woorde, eerder sou wou vergeet.

“Ek het in gr. 8 aan ‘n toernooi by die Gowrie Farms Gholf Klub deelgeneem, en my setstok gebreek. Ek sou daardie dat eerder wou vergeet.”

Maar van die goeie herinneringe is daar natuurlik oorgenoeg ook: “Die Limpopo Gholftoernooi verlede jaar in Marble Hall. Ek het dié toernooi gewen en ek is trots op die gholf wat ek daar gespeel het”.

Amicus lê tans tweede op die Limpopo o/19 rangorde, kort agter Morgan Mayoss. “Dit voel goed om in die tweede plek te lê, maar ek sou verkies om eerste te wees.”

Hy is tans besig met die ekordeksamen en beplan om volgende jaar voort te bou op sy huidige sukses.

“Ek wil soveel as moontlik punte bymekaar maak sodat ek op Gholf RSA-ranglys kan wees. Dit gaan net gebeur deur aan soveel as moontlik toernooie deel te neem. Om professioneel gholf te speel is ook in my toekomsplanne.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button