KYK: Kardoesie tuis by PHS se gr.11’s

Om die wenners te bepaal was Anerett van Zyl (Grey), Dawid van der Walt en Christine Kruger, almal oud-leerders van PHS, beoordelaars en na hulle behoorlik koppe gekrap het, is die gr. 11’s as wenners aangekondig.

POLOKWANE – Met net meer as ‘n week nadat die skole vir die derde kwartaal begin het, het Hoërskool Pietersburg hulle jaarlikse Kardoesie aangebied.

Soos byna al tradisie met hierdie geleentheid, was dit ysig koud Dinsdagaand toe almal op PHS se veld bymekaar gekom het. Leerders was gereed om hulle danspassies in hul onderskeie graadgroepe te vertoon.

Kardoesie is ‘n jarelangetradisie waar die grade aan ‘n sêrkompetisie deelneem met die hoop om ‘n pop, Kardoesie, te wen. Dié is in 1968 deur ‘n oud-leerder aan die skool geskenk. Sedertdien verdwyn sy elke jaar aan die begin van die derde kwartaal en werk die leerders hard om haar terug te wen.

Eerste was dit die gr. 8’s wie se tema War Warriors was. Kompleet met weermaguitrustings, gewere en patrone het die dirigente die aand afgeskop.

 

Die gr. 9’s het die gehoor bederf met ‘n smakie van boerwees met hulle tema, Bedank ’n Boer.

Derde aan die beurt was dit die gr. 10’s wat op ‘n Formule 1 tema, Drive to Survive, besluit het. Dié sportsoort het ‘n nuwe betekenis vir die gehoor nadat die dirigente hulle slag gewys het.

Die gr. 11’s het, gepas by die koue weer, soos eskimo’s aangetrek was. Na hulle optrede, Snowbody Does it Better, was hulle en die gehoor so te sê vuurwarm gedans.

Laaste was dit die gr. 12’s wat aan hulle laaste Kardoesie, met die tema Money Heist, deelgeneem het.

Om die wenners te bepaal was Anerett van Zyl (Grey), Dawid van der Walt en Christine Kruger, almal oud-leerders van PHS, beoordelaars en na hulle behoorlik koppe gekrap het, is die gr. 11’s as wenners aangekondig.

Uitslae:
1. Gr. 11 met 86,46%.
2. Gr. 12 met 86,25%.
3. Gr. 10 met 83,75%.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version