Schools

Juffrou Madeleen lê ‘n stewige grondslagfondasie

Vir juffrou Madeleen Willemse is 'n sterretjie nie nodig as aanmoediging, vir haar om elke oggend voor haar gr. 2-klas by Akademie Reformia aan te meld nie.

POLOKWANE – Daar word gesê onderwysers word gebore, nie gemaak nie, en wanneer dit ‘n grondslagfasejuffrou is, kry hulle ‘n ekstra goue sterretjie.

Vir juffrou Madeleen Willemse is ‘n sterretjie nie nodig as aanmoediging, vir haar om elke oggend voor haar gr. 2-klas by Akademie Reformia aan te meld nie.

Lees ook: Wiskunde kán lekker wees, gesels juffrou

Madeleen, wat in Polokwane grootgeword het, het haar studies destyds by die Universiteit van Noordwes se Potchefstroomkampus voltooi en as groentjiejuffrou voor haar eerste gr. 1-klas by Oosskool gestaan.

“Dit was vreesaanjaend. Ek was bang ek kry dit nie reg om vir die leerders klas te gee nie. Om te studeer gee vir jou die kennis, maar nie die ervaring nie. Elke dag het dit beter en makliker gegaan.”

Hierdie ma van vier sê vandat sy haar eie kinders het, het sy meer simpatie en empatie ontwikkel.

“Dit is asof ‘n mens kinders beter verstaan.”

Sy het haar juffrouskoene gesool by verskeie skole in die stad, by die grondslagfase, intermediëre, en senior fase en sê sy verkies die grondslagfase elke keer.

Toe die grendeltydperk ingestel word, het sy besluit om haar seuns tuis te onderrig, en vertel hoe sy ‘n deernis ontwikkel het vir ouers met kinders wat aan aandagtekorthiperaktiwiteitversteuring ly.

“My seun is met die toestand gediagnoseer en die pad wat ons tot dusver gestap het, was moeilik. Sedertdien werk ek beter met kinders en hoe langer ek met hulle werk, hoe meer besef ek hoeveel kinders deur die stelsel gedwing word na die volgende graad te vorder. Met kleiner klasse is dit makliker om die outjies wat sukkel raak te sien, en te help.”

Volgens Willemse geniet sy dit om met die effens ouer leerders te werk, maar die genot wat sy kry om ‘n kind van gr. 1 tot gr. 2 te sien vorder, is baie beter.

“Dit is die heel lekkerste as ‘n kind vir jou sê, hy het die dag by die skool geniet en is lief vir jou. My raad aan beginneronderwysers is om die kinders aan jou kant te kry. Moet hulle nie omkoop nie, maar maak seker julle kan saamwerk. Werk met die kinders se swak en sterk punte.”

In haar vrye tyd is sy lief daarvoor om tyd saam met haar gesin deur te bring. Sy en haar man, Henning, en hulle kroos stap graag of ry fiets. Sy geniet ook ‘n goeie oorlogboek of biografie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button