Osie-netbal beste in Limpopo

Die span, onder afrigting van Nelmerie Venter en Denja Pretorius, het die afgelope naweek aan die Limpopo kampioenskappe deelgeneem.

POLOKWANE – Dit was met groot blydskap toe Oosskool Sondag die nuus aankondig dat die o/13A-netbalspan as Limpopowenners gekroon is.

Die span, onder afrigting van Nelmerie Venter en Denja Pretorius, het die afgelope naweek aan die Limpopo kampioenskappe deelgeneem.

Pretorius verduidelik dat die top 20 o/13-spanne van regoor Limpopo in vier poele opgedeel word.

“Hierdie poele se spanne speel teen mekaar en dan dring die top twee spanne in elke poel deur na die kwarteindrondes. Die vier wenners van die kwarteindrondes dring deur na die semi-finale. Die wenners van die semi-finale speel dan in die eindstryd uit vir posisies een en twee en die twee verloorders speel uit vir posisie drie en vier.”

Oosskool wen al die eerste poelwedstryde: teen Laerskool Krugerpark, Sindile Primary, Muzhedizi Primary en Pietersburg Laerskool.

Hulle kom in die kwarteindstryd teen Laerskool Marble Hall te staan en wen 20-1. Tydens die semifinaal speel hulle teen Laerskool Louis Trichardt en stap weer as wenners weg met ‘n telling van 11-7.

Die finaal vir die eerste en tweede plekke vind tussen Oosskool en Noordskool plaas, en met ‘n telling van 11-9 word Oosskool as Limpopowenners aangewys.

Venter sê hulle is dankbaar dat daar geen beserings was nie en dat die span deur die seisoen dieselfde kon bly.

“Om steeds op standaard te bly het ons die intensiteit van die oefeninge verhoog al het ons oefentyd korter geraak. Ons het lekker spanbousessies gehad en van video-analise gebruik gemaak.”

Elke span moet ‘n reserwe of twee beskikbaar hê vir ingeval ‘n speler ‘n besering opdoen. Om seker te maak sy kry ook speelbeurt vervang sy so ver as moontlik tydens halftyd een van die ander spelers – soos kompetisiereëls voorskryf.

“Ons is bevoorreg om ‘n reserwe te hê wat ons kan inruil en wat steeds haar absolute beste gee sonder om die span se gehalte van die spel enigsins te beïnvloed,” het Pretorius bygevoeg.

Die seisoen is egter nog nie verby nie, aangesien die span gekwalifiseer het om in Augustus aan die Top 20 skoletoernooi deel te neem. Hier sal hulle teen die top skole regoor die provinsie meeding.

Volgens Venter is daar belangrike eienskappe wat van iemand ‘n goeie netbalspeler maak.

“Ten spite daarvan dat sy netbal fiks moet wees, met goeie voetwerk en balvaardighede, moet sy iemand met ongelooflike deursettingsvermoë wees om tot die laaste minuut te speel.”

Pretorius voeg by dat hierdie wedstryde nie maklike wedstryde was nie. “Die mededingers was baie fisies en die ondersteuners intimiderend. Met die finaal was ons halftyd met vier punte agter. Die span het egter by hulle spelpatroon gebly en met integriteit en waardigheid geveg tot die einde en met twee punte gewen.”

Dié einste span het in 2022 ook aan die Top 20 toernooi deelgeneem en is dankbaar om twee jaar agtereenvolgens deel van die kompetisie te kan wees.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version