Schools

Osie-hoof verjaar in rock- en hippie 70’s-styl

Met musiek wat uit die 70's dateer en sy vrou, Ingrid, aan sy sy, het Gideon Pelzer met 'n 'vintage' Volkswagenbussie oor die rugbyveld gery.

POLOKWANE- Om pa te staan vir ‘n hele laerskool se kinders, wil gedoen wees, en dit is juis waarom Oosskool se personeel en leerders elke jaar die skoolhoof, Gideon Pelzer, se verjaarsdag op ‘n behoorlike wyse gedenk.

Dit was vanjaar ook geen uitsondering nie, en op 10 Mei, ‘n dag voor Pelzer se verjaardag op 11 Mei, kon leerders en personeel in 1970’s rock- en hippieklere skool toe gaan.

Met musiek wat uit die 70’s dateer en sy vrou, Ingrid, aan sy sy, het Pelzer met ‘n ‘vintage’ Volkswagenbussie oor die rugbyveld gery.

Die leiers het ‘n spesiale dans uitgevoer en daarna het die hele skool vir Pelzer gesing.

Ingrid en Gideon Pelzer is gereed vir die 70’s disko.

Hoofseun Ruben Vorster het opgemerk dat Pelzer se rol ‘n onmisbare een is:

“Meneer is die beat in ‘n trefferliedjie en die hoofsanger van die band. Meneer is die beste danser op die verhoog en die diskolig wat die kleur aan Oosskool gee. Meneer is ons eie Rocky die kampioen in die kryt, wat veg vir elke Osie.”

Lian van Niekerk in sy hippieklere.

Mia O’Reilly, die skool se hoofmeisie, het saamgesels: “Meneer was so lief vir skool, hy het selfs op ‘n Saterdag sy skoolklere aangetrek en skool toe gegaan, net om te besef dat daar nie skool is nie. Hy is vandag nog net so lief vir skool.”

Ander Oosskool-leerders wat hul verjaardag saam met Pelzer vier is Jenevieve Sarmento, Ahren Delport, Jano Olivier en Chadré Engelbrecht, asook onnie Jan-Boland Deysel.

Mariet Smit is uitgevat vir Gideon Pelzer se verjaarsdagvieringe.

Pelzer het almal hartlik bedank vir die moeite wat vanjaar weereens gedoen is om dié dag spesiaal te maak.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button