Isak se pyl en boog in die kol

Isak van der Schyff het tydens die onlangse African Genesis Archery by die Waterberg Akademie met twee derde plekke weggestap.

POLOKWANE – Isak van der Schyff het vanjaar sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Pietersburg begin en sommer vinnig naam op die sportveld gemaak.

Alhoewel hy swem en hokkie speel, is dit sy prestasie in boogskiet wat die kollig op hom laat val het.

Isak het tydens die onlangse African Genesis Archery by die Waterberg Akademie met twee derde plekke weggestap.

Die eerste brons medalje het hy verower met sy deelname in die hoërskole seunsafdeling en die ander een as algehele skut.

“Daar was 25 skuts in die hoërskoolafdeling en 150 in die algemene-afdeling.”

Isak sê hy was in Laerskool Bosveld en dit is hier waar hy in gr. 4 aan boogskiet blootgestel is.

“Dit was destyds die ‘inding’ om te doen en baie gr. 4-leerders het met boogskiet begin. Soos ons ouer geword het, het die skuts minder geraak.”

In dieselfde jaar het Isak aan sy eerste kompetisie deelgeneem.

Hy is in gr. 7 gekies om saam met 10 ander leerders aan die inter-provinsiale boogskietkampioenskappe in die Paarl deel te neem.

Hier het hy ‘n tweede plek in die 3D junior seunsafdeling, ‘n tweede plek in die junior seuns ‘bull’s eye’-afdeling asook ‘n algehele tweede plek behaal.

“My kompetisie is vanjaar bietjie sterker omdat ek nou onder die hoërskoleafdeling skiet. Ek oefen een tot twee keer ‘n week en gewoonlik naweke ook. Afrigting in boogskiet behels net dat iemand jou help om jou oog in te kry. Vandaar kan jy op jou eie aangaan.”

Hy verduidelik die 3D-afdeling is waar daar ‘n driedimensionele teiken is waarna hulle moet skiet.

“Ek geniet dit die meeste. Die ander afdeling is die bull’s eye-afdeling. Ek het met my laaste skiet 280/300 vir die bull’s eye en 274/300 vir 3D geskiet.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version