HTS Tom Naudé vehelder met spreiligte

Vroeg in Februarie is die spreiligte opgesit en nou dat die A-veld helder verlig is, kan Tom Naudé meer middag-aand byeenkomste in rugby en atletiek aanbied.

POLOKWANE – Vir rugbyaanhangers is die afstel van ‘n wedstryd weens swak lig, ‘n teer punt. Verlede jaar in April, moes daar ‘n wedstryd by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé afgestel word, juis weens swak lig, en só is ‘n projek geloods om die onaangename situasie hok te slaan.

Vanessa Kachelhoffer (hoof), Francois Lottering en Kobus de Meyer het op die A-veld gestaan en gesels om ‘n moontlike oplossing vir die probleem te vind en daar en dan besluit dat spreiligte die antwoord is.

Met die wat Kachelhoffer reeds 33 jaar by Tom Naudé betrokke is, het sy heelwat oud-leerders se nommers op haar foon. “Dit is hier waar ons weer ‘n plan gemaak het. Ons het boodskappe uitgestuur en die reaksie was oorweldigend,” sê sy.

Vroeg in Februarie is die spreiligte opgesit en nou dat die A-veld helder verlig is, kan Tom Naudé meer middag-aand byeenkomste in rugby en atletiek aanbied.

“Dit sal die ontwrigting van akademiese tyd verminder, veral waar leerders vroeër agter die skoolbanke onttrek moes word om voor donker aan hulle items te kon deelneem, veral gedurende die wintermaande. Ons verhuur ons velde vir raak-rugby (touch rugby) en ander oefeninge, aangesien dit ‘n veilige omgewing met sekuriteitswagte is.”

Al die ligte is deur oud-leerders geborg en die 1984-groep het gesamentlik ‘n bedrag van R21 000 bewillig vir dié projek.

Op 14 Februarie het die skool hulle eerste nagmark gehou waar leerders allerlei snuisterye verkoop het. Hulle het geld bymekaargemaak vir die jaarlikse kaskarresies wat volgende Vrydag gehou word. Die A-veld het gewemel van ouers, grootouers en familie wat die leerders se kaskarfonds ondersteun het.

Elke gr. 12-leerder wat die skool verlaat het, onderneem om R100 van sy eerste salaris vir die skool te gee om vir kaskar te betaal.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version