Lizette Olivier – Eenmaal ‘n Osie, altyd een

Lizette Olivier het verlede week amptelik afgetree as adjunkhoof vir akademie by die skool, maar is vanaf 1 Maart weer terug waar sy by die ondersteuningsentrum betrokke sal wees.

POLOKWANE – ‘n Mens kan nie ‘n kind se liefde koop nie.

Dít is maar net een van die vele lesse wat Lizette Olivier in haar 24 jaar by Laerskool Pietersburg-Oos geleer het.

Olivier het verlede week amptelik afgetree as adjunkhoof vir akademie by die skool, maar is vanaf 1 Maart weer terug waar sy by die ondersteuningsentrum betrokke sal wees.

Sy vertel hoe sy as jongmens presies geweet het dat die onderwys so reg in haar kraal val.

“Ek het nog altyd, sonder twyfel, geweet ek wil in die onderwys ingaan. Ek het destyds aan die Onderwyskollege in Potchefstroom studeer en my onderwysdiploma verwerf, waarna ek ook ‘n honneursgraad in onderwysbestuur, onderwysreg en onderwysstelsel aan die Noordwes Universiteit behaal het.”

Sy was nog nie ‘n dag spyt oor haar loopbaankeuse nie, voeg sy by.

“Die werk het aan elke liewe een van my verwagtinge voldoen. Veral die laaste 11 jaar was baie vervullend, omdat ek alles gedoen het waarvan ek regtig hou.”

In ‘n vorige onderhoud met Polokwane Review het Olivier gemeld dat sy die waardes waarmee sy haar eie kinders grootgemaak het, aan haar leerders oorgedra het.

“Ek is baie trots op my kinders, en ek glo dieselfde waardes wat hulle mee grootgemaak is, het hulle pad na my Oosskoolleerders gevind.”

Oor die hoogtepunte in haar loopbaan sê sy die mees uitdagendste tyd, wat haar die meeste persoonlik en proffessioneel laat groei het, was die 20 maande wat sy as skoolhoof waargeneem het.

“Ek het nooit gedurende daardie tyd, voor en na dit, daaraan gedink dat ek skoolhoof wil wees nie. Ek het nie in daardie posisie belanggestel nie.”

‘n Hoogtepunt wat terloops verbygekom het, was een wat deur die grendeltyd tot stand gebring is.

“Alhoewel Covid-19 almal teruggesit het, het Oosskool se personeel, ouers en leerders saamgewerk om binne ‘n week met aanlynklasse te begin. Almal het saamgewerk en ons kon volhard by die regulasies wat gestel is.

“Ons kon baie goed met ons ouers kommunikeer.”

Na soveel jaar by die skool, kan sy ook getuig van vele verandering.

Een daarvan is die tegnologie waarmee onderwysers nou kan klasgee.

“Met die nodige tegnologie kan ons die wêreld na ons klasse bring en sodoende die leerders te leerervarings beter te maak.”

Die uitdagings wat elke dag bring is elke dag anders, en geen twee dae is ooit dieselfde in die onderwys nie, vertel sy. En dít gaan sy ongelooflik mis.

Mooiloop, Juffrou Lizette!

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version