Sport-Pieties spog met hoëverrigtingsentrum
Die sentrum bied gym-toerusting vir die leerders se gebruik en Leandra Pieterse sal na skool by die sentrum wees om die atlete en sportmanne en -meisies by te staan.
POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg streef daarna om net die beste vir die leerders te bied. Of dit in die klaskamer is, op die verhoog, of op die sportveld.
‘n Nuwe toevoeging tot die skool is die PHS Discovery Sportsentrum. Dié is vroeër die maand amptelik tydens ‘n kort seremonie ingewy.
André Visser van Discovery, Andri Weyer, die skool se beheerliggaam voorsitter, Lizanne Dreyer en Leandra Pieterse van Lizanne Dreyer Biokinetikis en skoolhoof Adolf Ellis was van die gaste wat dié eerste vir PHS geleentheid bygewoon het.
“Die projek is reeds in 2021 begin beplan en ons is bly dat die leerders dit nou ten volle kan gebruik,” sê Ellis.
Die sentrum bied gym-toerusting vir die leerders se gebruik en Leandra sal na skool by die sentrum wees om die atlete en sportmanne en -meisies by te staan. Anerett Grey se fisioterapiekamers is ook naby die sentrum.
Die leerders sal gedurig gemonitor en geëvalueer word en voor elke wedstryd sal die afrigters saam met die terapeute besluit of die leerder fisiek reg is om deel te neem. So kan beserings verminder en selfs vermy word.