Schools

Blitzbok Nadine keer terug na alma mater

Oud-Pietie en plaaslike rugby-sensasie Nadine Roos het PHS leerders aangemoedig om, nes hulle leuse, na die sterre te reik en hulle drome na te jaag.

POLOKWANE – Die Seweswêreldbeker was in September in Kaapstad gespeel, en plaaslike rugby-sensasie, Nadine Roos (26) het behoorlik beïndruk.

Sy het vier drieë tydens die vrouespan se wedstryd teen Colombia gedruk, waar Suid-Afrika die wedstryd 27-0 gewen het.

“Dit voel nog so onwerklik dat ek in ‘n wêreldbeker in Suid-Afrika gespeel het, maar dit was ‘n besonderse ervaring. Wat uitgestaan het was die ondersteuning van die skare,” vertel sy.

Nadine het in Polokwane by haar ouma grootgeword en dié het haar van jongs af ondersteun in haar sportkeuses.

“Ek het in die laerskool bulletjierugby gespeel, maar was daarna nie toegelaat om rugby op skool te speel nie. Ek het dus aan ander sport soos atletiek, netbal en krieket deelgeneem.”

Nadine het saam met seuns op die plaas grootgeword waar sy alles saam met hulle gedoen het, van balskop tot resies hardloop en dus het sy vroeg reeds balvaardighede aangeleer.

Na skool het Nadine by die Universiteit van Pretoria aangesluit waar sy in 2015 met 7’s-rugby kennis gemaak het.

Die Tuks vroue 7’s-afrigter, Riaan van der Merwe, het haar op die atletiekbaan genader en vir ‘n oefening genooi.

‘n Maand later was sy in die Tuksspan en op pad Frankryk toe.

“Rugby het my gevind. Ek was eers ‘n 7’s-speler voordat ek 15-manrugby begin speel het. Ek glo my hart lê meer by die 7’s aangesien dit is waar alles vir my begin het. Ek hou van die spoed van die spel, die tydsduur, die opwinding wat 7’s skep en die een-teen-een vaardighede.”

Sy vertel die ommeswaai van die 7’s speelformaat na die 15-man-formaat was nie baie moeilik nie.

“Die 7’s lê ‘n goeie fondasie van vaardighede, ‘n mens moet heeltyd op jou voete dink en in splitsekondes besluite neem. In 15-spel is dit bietjie stadiger en jou vaardighede wat jy in 7’s leer help jou om vinnig aan te pas.”

Nadine het deur die jare verskillende afrigters gehad en glo almal wat haar afgerig het, het ‘n impak op haar loopbaan gemaak.

“Almal het in my geglo, nie net omdat hulle moes nie, maar omdat hulle regtig belanggestel het, bereid was om hulle tyd op te offer en die beste sportvrou van my te kon maak.”

Die een wedstryd wat Nadine sê sy nooit sal vergeet nie, is haar debuut wêreldreekswedstryd in Dubai in 2016 teen Amerika.

Sy het twee drieë gedruk en haar span het die wedstryd gewen.

Nadine se raad aan iemand wat in haar tokse wil wees is om nie toe te laat dat mense se opinie ‘n beperking op jou talente sit nie.

“As jy iets wil doen of passie het vir iets in die lewe, gryp die geleentheid aan en gaan voluit vir wat jy wil hê. Jy sal slegs weet of dit vir jou is tot jy dit self probeer.”

Nadine sê sy probeer so gereeld as moontlik om by die huis te kom kuier, maar dis nie altyd maklik nie.

Tydens die 7’s Wêreldbeker in Kaapstad het sy PHS skoolhoof Adolf Ellis se PHS pet geteken, min wetend wie hy is.

Ellis het verlede Maandag ‘n e-pos aan Nadine gestuur om haar geluk te wens en toe sommer die aap uit die mou gelaat.

Nadine was in 2014 in gr. 12 by PHS en het Vrydagoggend by haar alma mater gekuier.

Tydens die geleentheid het sy met die leerders gesels en Ellis het ‘n spesiale toekenning aan haar oorhandig.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button