Matthew McLaughlin op pad SA kampioenskappe toe

Dit sal die derde keer wees wat dié kranige skaakspeler uitgenooi is om aan die Suid-Afrikaanse Junior Skaakkampioenskappe deel te neem.

POLOKWANE – Meeste 13-jariges weet presies wat hulle gunsteling aktiwiteit is om na skool besig te bly.

Vir sommiges is dit dalk rekenaarspeletjies en ander mag dalk die buitelig verkies, maar Matthew McLaughlin is op sy gemaklikste agter ‘n skaakbord.

Na ure se oefen en harde werk is dié leerder van Pietersburg Laerskool onlangs gekies om aan die Suid-Afrikaanse Junior Skaakkampioenskappe in Desember deel te neem.

“Ek was sewe jaar oud toe ek vir die eerste keer saam met my pa om ‘n skaakbord gesit het. Van daar af is ek verslaaf aan skaak en speel ek om te wen. Beide my hart en my brein is verknog aan die sport en ek spandeer al my tyd om my spel te verbeter. Waar ander jongmense Fortnite of Roblox op die rekenaar speel, speel ek eerder skaakwedstryde aanlyn.”

Matthew voeg by dit is die derde jaar wat hy na die kampioenskappe genooi is en hy sê sy einddoel is om die wêreld skaakkampioen te word.

Hy voeg by sy gunsteling deel van skaak is al die verskillende strategieë wat gebruik kan word om die teenstander in skaakmat te vang.

“Ek moet altyd drie of vier skuiwe voor my teenstander wees. Die moeilikste skuif is die een wat jy moet maak as jy weet jou teenstander se volgende skuif gaan jou in ‘n skaakmat sit.”

Skaak verg volgehoue fokus en dit is soms vir Matthew ‘n uitdaging, en só ook as hy verloor teen iemand wat swakker as hy speel.

“Bobby Fisher is my inspirasie. Hy was maar 14 toe hy as die wêreldkampioen aangewys is in 1964. Hy het ‘n boek geskryf en daar is ‘n fliek, Searching for Bobby Fisher, oor hom gemaak. Hy het ‘n IK van 181 gehad.”

Matthew vertel hy bid altyd voordat hy speel en sy geheim is om drie keer te dink voordat hy ‘n skuif maak.

Hy hoop om na skool ‘n vlieënier te word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version