Schools

Van skopfiets tot bergfiets: Miané volg haar droom tot in die Limspan

Die 10-jarige Oosskoolleerder, Miané van Heerden, ken van val, seerkry en dan weer opstaan en aangaan as dit kom by fietsry.

POLOKWANE – Verlede jaar het Miané begin om kompeterend bergfiets te ry en is onlangs gekies vir die Limpopospan.

“My liefde vir fietsry het jare gelede met ‘n skopfiets begin. In gr. R was my grootste droom om met ‘n twee-wiel fiets in die straat te kon ry. Dié droom was sommer in die eerste skoolvakansie van daardie jaar verwesenlik. Van daar af het my liefde vir die sport gegroei tot waar ek vandag deel van die Limpopospan is.”

Alhoewel Miané nog nie aan al die beskikbare kompetisies deelgeneem het nie, het sy die Tour de Lip in Louis Trichardt, die meeste geniet.

Lees ook: Osies-bergfietsryers verwerf podiumplekke

“Ek geniet alles van fietsry. Jy is saam met jou spanmaats en doen waarvoor jy lief is. Elke baan is ‘n nuwe avontuur. Die moeilikste is die val en seerkry en om dan weer op te staan en aan te gaan. Ek het al baie kere geval, maar dan staan jy maar op, stof jouself af as jy tyd het, en trap voort.”

Miané van Heerden.

Voor Miané aan ‘n kompetisie deelneem maak sy seker haar fiets is reg en dat sy kalm is.

“‘n Bietjie spanning is altyd goed, maar die belangrikste is om die sport te geniet.”

Sy oefen vyf keer ‘n week en haar afrigters is haar pa, Leon van Heerden, en bergfiets organiseerder by Oosskool, Anjah de Nysschen.

“My raad aan iemand wat in my voetspore wil volg is om jou droom te volg, hard te werk en jou plek te verdien. My pa sê altyd ‘hard work beats talent when talent doesn’t work hard’.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button