POLOKWANE – Koningin Elizabeth II is dikwels beskryf as ‘n simbool van elegansie, kalmte, waardigheid en liefde vir haar medemens – alles eienskappe wat net so van toepassing is op Tannie Marina van Eeden, wat verlede Sondag haar 90ste verjaarsdag gevier het.
By Tannie Marina is ‘n ‘vinnige inloer’ feitlik onmoontlik. Elke besoek ontaard in ‘n gesellige kuier met vars hors d’oeuvre, tee uit porseleinkoppies en hartlike geselskap.
Haar hare is altyd netjies, sy dra haar pêrels met trots, en sy is selde sonder ‘n stylvolle uitrusting te sien. En wanneer jy ná ‘n paar uur vertrek, word daar altyd iets lekkers in jou hand gestop.
Op 90 het Tannie Marina reeds ‘n vol en geseënde lewe geleef.
Sy het naby die koninkryk van die reënkoningin, Modjadji grootgeword en jare later selfs saam met Koningin Elizabeth II tee in Buckingham Paleis gedrink.
In 1952 het sy as hoofmeisie van Hoërskool Pietersburg gematrikuleer.
Op 21 is sy met haar lewensmaat, dr. Kalvyn, getroud en saam het hulle drie kinders grootgemaak. As jong meisie het sy Sepedi aangeleer en vandag gesels sy ewe vlot in Sepedi en Afrikaans.
Haar dogter, Karen is verstandelik gestrem. Tannie Marina, ‘n preprimêre onderwyser, het hulle huis se leefarea in ‘n klaskamer omskep waar sy vir Karen en drie ander meisies onderrig het.
Maar toe kom daar ‘n tyd toe sy dit nie meer alleen kon doen nie.
Teen sewe moes Karen, soos die wet vereis het, by ‘n skool ingeskryf word, en dié was Laerskool Pietersburg-Noord (Noordskool).
“Ons het gesoebat en gesmeek, maar uiteindelik moes ons ‘n skooluniform koop. Ná twee maande in gr.1 het die skool my gebel en gevra ek moet vir Karen kom haal. Elke dag het ons verby die spesiale klas gestap. Op haar laaste dag het die juffrou, met trane in haar oë, vir my ‘n briefie gegee en gesê daar sal weer ‘n nuwe horison wees – vir my en vir Karen.”
Hierna het Tannie Marina haar roeping gevolg en was een van die stigterslede van die Nuwe Horison Skool, waar sy verantwoordelik was vir die skool se leuse, ‘Volhard’.
Vir tien jaar het sy die stimulasieperiodes aangebied. Sy was ook ‘n stigterslid van Eeufeeshuis en van die Trix Nortman werkswinkel by Eeufeeshuis.
Sy deel graag stories van haar en Kalvyn se huwelik. “Ons het mekaar by ‘n troue ontmoet waar ek strooimeisie was. Hy was vyf jaar ouer as ek, en distriksgeneesheer. Ons was 63 jaar getroud – 63 jaar van ongelooflike liefde en ook van leed.” By hul 20ste huweliksherdenking het sy net een geskenk gevra: dat hy elke dag middagete saam met die gesin geniet.
“Hy het daardie belofte gehou tot die einde.”
Hoewel sy betrokke was by verskeie instansies, bly sy in haar hart ‘n kind van die Laeveld.
Haar tuin is haar Eden, haar plek van vrede.
Sy sê dis haar medisyne, en wanneer sy soggens die son sien opkom, voel sy soos ‘n miljoenêr.
Haar lewensfilosofie? “Staan op, borsel jou tande, en gaan aan.” Sy eet gesond, bly besig, en bly dankbaar.
“Ek leef naby aan God en is dankbaar vir elke persoon in my lewe. Ek het soveel rolle vervul en wonderlike mense ontmoet – sommige wat my diep geïnspireer het,” het sy afgesluit.