VS se setperke in Mea Swart (16) se visier

Mea Swart (16) bring ure op die Polokwane Gholfbaan deur, waar sy haar talent en tegniek slyp en put inspirasie uit internasionale gholfsterre soos Nelly Korda en Scottie Scheffler.

POLOKWANE – “Dit is okay om soms slegte houe te speel.”

Só lui die bemoedigende raad van die 16-jarige Mea Swart, aan ander meisies wat graag in haar gholfspore wil volg.

Mea bring ure op die Polokwane Gholfbaan deur, waar sy haar talent en tegniek slyp.

Die baan is vir haar net so geliefd soos die tyd wat sy op haar ouers se plaas deurbring. Haar liefde vir die sport het begin toe sy nog in die laerskool was, nadat haar vriend Morgan Allison, wat self ‘n bedrewe gholfspeler is, haar genooi het om saam gholf te speel.

Haar eerste herinnering aan die sport is toe hulle gaan kuier het by haar tannie op Zebula Gholflandgoed – en sy sommer van die begin af goeie houe geslaan het.

Kort voor haar 13de verjaarsdag het sy haar eerste stel gholfstokke ontvang. Hoewel sy die enigste aktiewe gholfspeler in haar familie is, sê sy haar nefie slaan ook soms ‘n paar balle.

Mea put inspirasie uit internasionale gholfsterre soos Nelly Korda en Scottie Scheffler, en ná twee oorwinnings in die vroue-afdeling van die Polokwane Ope droom sy daarvan om self eendag professioneel te speel.

Sy het dié toernooi in 2024 en 2025 gewen, met die mees onlangse wedstryd wat op 29 Maart plaasgevind het.

Sy het ook onlangs aan haar tweede klubkampioenskappe deelgeneem, waar sy die vroue A-divisie kafgedraf het.

Dié oorwinning het daartoe gelei dat sy gekies is om Limpopo te verteenwoordig by die Premier Interprovinsiale Toernooi wat van 20-23 Mei by Ruimsig Gholfklub gehou word.

Boonop is sy in Augustus verkies tot die Limpopo Hoërskole Gholfspan en verteenwoordig sy haar skool, Hoërskool Pietersburg, met trots in elke ligawedstryd.

Voor elke wedstryd bespreek sy en haar afrigter, Mike Baylis, spesifieke aspekte van haar spel. Hulle fokus op dinge soos om kalm te bly en om nie teen foute vas te kyk nie.

“As ek onder druk is, help dit om terug te keer na die basiese beginsels van gholf. Ek fokus op my eie spel, my roetine, en ek probeer altyd gemotiveerd bly. Ek bid baie en herinner myself daaraan dat dit volgende keer beter sal gaan. Ek kyk vorentoe – na die volgende hou, nie terug na die vorige een nie.”

Een van die moeilikste bane waarop Mea sê sy al gespeel het, is Pinnacle Point in Mosselbaai.

“Die baan is kuslangs, so die wind is ‘n groot uitdaging. Daar is ook baie fynbos wat dit moeilik maak om jou bal te kry.”

As jong vrou in die sport staar Mea ook unieke uitdagings in die gesig, waaronder die feit dat sy die enigste meisie in haar ouderdomsgroep in Limpopo is wat aktief aan gholf deelneem.

Maar dit stuit haar geensins – sy droom reeds van voëltjies en arende anderkant die water in Amerika.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version