POLOKWANE – Theuns de Jager (23) het reeds as jong seun die behoefte gehad om ander te help.
As 16-jarige kom hy tot die besef daar is mense wat nood het en begin hy uitreik na hulle toe.
Vroeër vanjaar is hy op soek na iets nuuts om te probeer en kom af op die Mnr. en Mej./Mev. Limpopo Provinsiale Kompetisie.
“Ek wou eers by ‘n modelskool aansluit, maar kon dit nie bekostig nie. Toe ek lees van die kompetisie vir Mnr. en Mej./Mev. Limpopo, het ek besluit om in te skryf, maar nooit gedink ek gaan wen nie. Ek het besef ek kan die kompetisie gebruik om liefdadigheidswerk te doen.”
Behalwe vir die titel het hy ook vyf ander toekennings ontvang waarvan beste persoonlikheid een hiervan was. Hy sê die beoordelaars was veral beïndruk met sy menseverhoudings en die feit dat hy homself goed mondelings kan uitdruk.
Theuns het sy skoolloopbaan by CVO Potgietersrus voltooi, waarna hy begin werk het.
Hy is nou in die proses om ‘n organisasie sonder winsbejag te stig in sy ouma, Veronica van Dyk, se naam.
“My ouma het ‘n groot rol in my lewe gespeel en was ‘n toonbeeld van vrygewigheid. Selfs al het sy nie iets gehad om te bied nie, sou sy iets kry. Sy het mooi na al haar kleinkinders gekyk.”
Die idee van die organisasie is om ‘n voedingskema te skep waar ander liefdadigheidsorganisasies ook baat by kan vind.
Met sy titel as Mnr. Limpopo gaan Theuns saam met Jolene du Bruyn, Mev. Limpopo, welsynswerk doen.
“Ons eerste projek is die Power Tower Food Drive waar ons op 9 November by Spar Platinum Park kos gaan insamel. Met hierdie kos wil ons tot 10 liefdadigheidsorganisasies help. Ons hoop vir boere wat vars produkte aan ons kan skenk. Dit sal ook goed wees as besighede mekaar uitdaag om te sien wie die meeste kan skenk.”
Sy vrye tyd word gebruik om gemeenskapswerk te doen waar hy kan, met sy troeteldiere te speel en tyd saam met sy familie te spandeer.