Pieter loop kilometers op sy knieë vir hulp

Op 5 Oktober vanaf 08:00 het Pieter saam met ‘n groep inwoners vanaf die N.G. Hulp en Hoop gemeente na Butter Bistro, sowat 2.5km op sy knieë gestap.

MOKOPANE – Pieter Botha het verlede Saterdag aan die gemeenskap gewys dat ‘n gebrek geen persoon hoef terug te hou nie.

Bosveld het onlangs berig dat Pieter voor ‘n groot finansiële mediese uitdaging te staan gekom het.

“Die maandelikse staatstoelaag wat ek ontvang is te min om my gereelde besoeke aan die spesialiste in Pretoria te betaal. Ek het ook maandelikse opvolgbesoeke by die plaaslike dokters en my prostese kort dringende herstelwerk,” het hy gesê en moedig bygevoeg dat hy die gemeenskap se hulp benodig.

Op 5 Oktober vanaf 08:00 het Pieter saam met ‘n groep inwoners vanaf die N.G. Hulp en Hoop gemeente na Butter Bistro, sowat 2.5km op sy knieë gestap.

Gemeenskapslede het hom per kilometer geborg en Pieter het met trots bygevoeg dat die dag se sukses die gemeenskap toekom.

“Ek het sowat R17 500 ingesamel en kan asemhaal met al die mediese koste wat voorlê.”

Pieter is ‘n voorbeeld van inspirasie en motivering met sy positiewe uitkyk op die lewe.

Hy is gebore met klompvoete en in sy grootwordjare het sy liggaam te swaar geraak vir sy voete en bene.

In 2007 is die besluit geneem om albei sy bene net onder die knieë te amputeer.

Hy het ook gesukkel met ‘n glukoom in sy oë en met die amputasie was die skok te veel op sy liggaam, wat gelei het tot blindheid.

Hy kan nog lig en donker onderskei en kan ook helder kleure sien. Aan die begin was die amputasie ‘n geweldige aanpassing, vertel hy. “Jy raak gefrustreerd in ‘n rolstoel.”

Met tyd het dit beter geraak nadat hy kon begin beweeg met krukke en prostese en hy kon fisies dinge vir homself doen.

Hy het ook aktief begin oefen en sy gehoor het verbeter.

“Ek wil elkeen uit die diepte van my hart bedank vir hulle bydrae – van die borge tot die stappers – elkeen het die dag vir my die moeite werd gemaak.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version