Meneer Petri voel tuis in die Noorde

Petri de Kok is aangestel as adjunkhoof by Noordskool waar hy daarna uitsien om ervaring op te doen en 'n positiewe verskil te maak.

POLOKWANE – Terwyl Petri de Kok se ouers albei onderwysers is, en dit vir hom as inspirasie gedien het om ook onderwys te studeer, was dit sy vrou, Marelize wat hom gemotiveer het om van Pietersburg Laerskool na Laerskool Pietersburg-Noord te skuif.

“Sonder Marelize sou ek dit nooit kon doen nie. Vir my persoonlike groei en my gesin se onthalwe was dit belangrik dat ek die kans vat,” sê hy.

Petri was van gr. 1-7 ‘n leerder aan PLS en het later, na sy hoërskoolloopbaan as student by PLS begin werk. Nadat hy vir vier jaar by Curro Heuwelkruin klas gegee het, het hy teruggekeer PLS toe waar hy tot baie onlangs nog gewerk het.

Waar hy by PLS Afrikaans Huistaal vir die gr. 6-groep gegee het, gee hy nou vir die gr. 7‘s natuurwetenkappe en vir die gr. 6’e lewensvaardighede.

Hy is op 1 September as adjunkhoof by Noordskool aangestel.

“Deur adjunkhoof te wees gaan ek baie meer betrokke wees by die bestuur van verskillende areas by die skool. Daar sal ook van my verwag word om leiding en mentorskap te verleen aan die ander personeel.”

Petri sê Noordskool is baie passievol oor hulle rugby en hy glo hy sal daar inskakel om sy kennis te deel. Hy sien uit daarna om sy nuwe kollegas te leer ken, ondervinding in ‘n bestuurspos op te doen en ‘n positiewe verskil by die skool te maak.

“Noordskool is ‘n dubbel-medium skool wat beteken ek gaan my taal moet opskerp om effektief met die leerders te kommunikeer. Daar is ook ‘n kultuurverskil van wat ek aan gewoond was, wat beteken ek sal daarby moet aanpas en vinnig die verskillende gewoontes moet leer ken. Die klaskamers is ook baie groter, wat beteken om dissipline te handhaaf gaan ‘n groot aanpassing wees. Omdat ek ook nou in ‘n bestuursrol is, beteken dit ook dat ek moet leiding van die staanspoor af neem en nie terug sit en kyk hoe dinge om my gebeur nie. Ek is nou aktief betrokke by die besluitneming van die skool.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version