Môregloed-inwoners keelvol oor waterprobleme

Inwoners kla dat hulle vir meer as 'n jaar geen munisipale water gehad het nie en water teen hoë koste moet aankoop om net te kan leef.

POLOKWANE – Inwoners van Môregloed, en veral diegene in Kleinenbergstraat het verlede Woensdagaand ‘n protesvergadering in dié straat bygewoon om hul misnoeë te kenne te gee met die Polokwane Munisipaliteit se onvermoë, of onwilligheid om aandag te gee aan die waterprobleme wat hulle nou al vir maande moet trotseer.

DA wyksraadslid en lid van die munisipaliteit se portefeuljekomitee oor water, Johan Retters, wou nog inleidende opmerkings maak, toe hy kortgeknip is deur ontstoke inwoners.

“Moet asseblief nie ons tyd mors om ons weer te vertel van die probleme wat met die massaverspreider, Lepelle Noord Water, beurtkrag en gebarste pype ondervind word nie. Ons is keelvol en soek nou spoedige en volhoubare oplossings,” het ‘n inwoner wat duidelik namens al die aanwesiges gepraat het, gesê.

Inwoners kla dat hulle vir meer as ‘n jaar geen munisipale water gehad het nie en water teen hoë koste moet aankoop om net te kan leef.

“Ons het nie meer tuine nie en my swembad is al maande leeg,” het ‘n inwoner gesê. Die munisipaliteit se waterwaens is ook nie ‘n oplossing nie. Ons wag partykeer ‘n week om reaksie te kry terwyl van ons bure wat invloed by die owerheid het of wat die vragmotorbestuurders omkoop, altyd tenks vol water het,” het ‘n ander inwoner aangevoer.

‘n Inwoner meen dat die probleem nie by ‘n tekort aan water lê nie, maar eerder by die bestuur van die owerheid se hulpbronne.

“Ek weet vir ‘n feit dat daar in die verlede kleppe ontdek en oopgedraai is wat ons van ‘n sterk stroom water voorsien het. Ons verstaan dat die gebied hooggeleë is en dat drukprobleme ondervind word. Dit kan opgelos word deur toevoer na laerliggende dele met tye te beperk en sodoende help om die druk te laat styg,” het hy gesê.

Volgens ‘n jarelange inwoner van die omgewing, het die tekort aan water ‘n radikale invloed op eiendomswaardes. “Niemand wil hier woon nie en ons kan nie ons eiendomme verkoop nie,” het hy aangevoer.

Ter opsomming het ‘n inwoner voorgestel dat die munisipaliteit ‘n deskundige raadgewer aanstel om die situasie te ondersoek en met werkbare voorstelle te kom.

“Dit is duidelik dat die munisipaliteit nie oor die kundigheid beskik om hierdie probleem te hanteer nie,” was sy inset.

Retters het aangedui dat daar nie akkurate planne van die waterstelsel in dié omgewing beskikbaar is nie.

“Ons weet nie waar die kleppe is nie en dit is nie ongewoon om op kleppe af te kom wat met plaveisel toegemaak is nie.”

Retters het onderneem om persoonlik ondersoek in te stel na moontlike oplossings en ‘n opvolgvergadering met inwoners te hou.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version