Damestee gee vir vroue padkos

Liezel Motto-Ros het vroue by die Joyful Ladies Tee aangebied as 'n fondsinsameling vir die Back 2 Basics mans- en vrouekampe.

POLOKWANE – “Noag is bekend daarvoor dat hy ‘n ark gebou het vir ‘n vloed terwyl die aarde dor van droogte was. Noag het dit nie alleen gedoen nie, behalwe vir God wat by hom gestaan het, was sy vrou daar om hom te ondersteun. Sy het vir hom gebid en gereeld moed ingepraat. Maar sy was ook bekommerd en het snags wakker gelê. Net soos Noag se vrou, is elke vrou ook maar onseker van haar gesin se toekoms. Net soos Noag se vrou, lê vandag se vroue steeds wakker in die nag.

Bekommer hulle hulself oor finansies, hulle kinders en vele meer.”

Liezel Motto-Ros, ook bekend as Mev. Noag, het vroue Saterdag by die Joyful Dames Tee bemoedig.

Dié tee is gehou as geldinsamelinggeleentheid vir Back 2 Basics, ‘n kampterrein net buite Kuschke. Hazel Kern en Belinda Fouché is die stigters van die Back 2 Basics manne- en vrouekampe wat maandeliks plaasvind.

Fouché het ‘n droom gehad waarin God vir haar wys dat hulle klaar hulle nette aan die eenkant uitgegooi het en waar hulle vra vir hulp om die kampterrein uit te brei – hulle moet nou die nette aan die ander kant uitgooi en kyk wat God vir hulle gaan doen.

Dit is hiér waar die idee van die damestee posgevat het.

Die kampe is deur God geïnspireer met die oog daarop om mense aan Hom bekend te stel en sodoende hulle ware identiteit in hom te vind, vertel sy.

Dr. Melané de Villiers van Divine Life Ministries het die funksie, wat deur meer as 300 vroue bygewoon is, gelei – alles met die doel om die geld wat ingesamel word te gebruik om die kampterrein op te gradeer en sodoende meer mense te kan akkommodeer.

Motto-Ros behou van haar eerste woorde af die gehoor se aandag.

“Ons woon almal in ‘n ark, alles is dieselfde. Dit is net die adres wat verander. Die Here sê ‘Ek het jou gekies om Noag se vrou te wees, hom te help en uitdagings saam aan te pak. Wees manna vir jou kinders.’”

God het jou gekies want jy is die beste vir dit wat jy moet doen, bemoedig Motto-Ros die vroue. “Jy is nie ‘n misverstand nie. Jy is presies dit wat God wil hê jy moet wees.”

Sy verduidelik hoe dit maklik is om iets te doen, maar nie so maklik om verantwoording te moet doen nie.

“Mense dink ‘jammer’ maak alles reg. Maar ‘jammer’ is egter ‘n klein woordjie met groot waarde en ‘n kort leeftyd.”

Motto-Ros sê ook vir vroue, as jy nie genade het nie, kan jy nie genade uitdeel nie.

“Elkeen het genade, want God gee genade. Moenie jou oorlog kies nie. Stilbly is ook ‘n antwoord. Gee jou oorlog vir die Here. Wat is jou droom? Ons is bang om die onvoorwaardelike te glo. Wat staan in jou pad, staan op en doen dit. Stel God eerste, Hy weet jy kan dit doen. Dit is belangrik om aan God gehoorsaam te wees.”

Sy sluit af deur te sê dat vroue moet opdaag en nie moed opgee nie. “Moenie ophou bid nie, die Here weet wat Hy doen. Jy hoef niks aan niemand te verduidelik nie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version