Local News

Plant meer plante, met minder water

Met waterbeperkings wat soveel raak, het Tobie Steenkamp by Acacia Kwekery die lede geleer van plante wat minder water nodig het.

POLOKWANE – Waterbeperkings is gereeld deel van die daaglikse nuus en dus wend baie tuiniers hulle daartoe om eerder plante wat minder water nodig het, te plant.

Tydens die Pietersburg Tuinbouklub se maandelikse vergadering, het Tobie Steenkamp by Acacia Kwekery vir die lede meer geleer oor vetplante.

Tobie se liefde vir vetplante het by sy ma begin, vertel hy, en hy het in 2004 ernstig begin om hierdie wonderlike plante te versamel. Tans het hy meer as 1 500 verskillende soorte, met unieke variëteite.

Na soveel jaar het Tobie baie ondervinding, maar ook heelwat lesse wat hy geleer het.

“Ek gee in die somer elke week 15-20 minute water en in die winter net 10 minute. Die plante vrot maklik as hulle te nat is en die grond waarin hulle is moet goed kan dreineer. Ek maak gebruik van ‘n kombinasie tussen riviersand en potsand.”

Tobie sê nie alle vetplante soek vol sonlig nie. In die natuur groei hulle in skeure en inhamme en selfs in die koelte. Die keuse van waar jy die vetplant wil plant hang van jou tuin af. Die plante rondom die vetplante, moet dieselfde hoeveelheid water benodig.

“Koop ‘n plant wat son gewoond is en plant hom in die son. As die plant skadu gewoond is, plant hom dan in die skadu. Plante uit sekere gebiede aard nie altyd waar jy dit wil plant nie.”

Tobie gee ook raad vir swamme, luise en ander probleme op jou plante.

“Vir luise, wat die grootste probleem is, gebruik ek oleum. Ek spuit dit op ‘n koeldag in die namiddag op die plant se blare. Vir ondergrondse luise en molluise gebruik ek Inseclicid granules wat sistematies bo en onder die grond werk. Swamme word behandel met funginex.”

Lank nadat Tobie sy kennis gedeel het, het lede van die tuinbouklub nog by hom raad gevra terwyl ander deur die nuwe kwekery op die Louis Trichardtpad gestap het.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button