Mnr. en Mej. Oosskool gekroon

Mnr. en Mej. Oosskool is gekroon uit 'n groep van gr. 7 finaliste wat na baie harde werk 'n totaal van R413 370 vir al hul projekte ingesamel het.

POLOKWANE – Na hulle harde werk het die Mnr. en Mej. Oosskool-finaliste onlangs geleer dat dit baie lekkerder is om te gee, as om te ontvang. Dié finaliste is vroeër in die jaar uit die gr. 7-groep gekies.

Hulle het in pare saamgewerk en aan elke paar is daar ‘n graad en ‘n liefdadigheidsaak toegesê.

Die finaliste was:
• Lia Muller en Daniel Pretorius saam met gr. 3 by Martha Hofmeyr.
• Jaime Caldeira en Lukas van Reede van Oudtshoorn saam met die gr. 1’s by Ngwana Babahuis.
• Diana van Jaarsveld en Franco Kruger saam met die gr. 2’s by Ons Tuiste.
• Luané Jansen van Rensburg en Regard Conradie saam met die gr. 3’s by La Wiida en Club 21.
• Milandri van Jaarsveld en Barry Strydom saam met die gr. 4’s by Tough Living with Cancer (TLC)-saal vir kinders met kanker.
• Deané Fuchs en Joshua Anders saam met die gr. 5’s by die Polokwane DBV.
• Yolandé Roets en Mauritz Venter saam met die gr. 6’e by Eeufeeshuis.
• Mieke Karsten en Janko Krog saam met die gr. 7’s by Small Beginnings Pre-School and Aftercare.

Na maande se geld en produkte insamel is die gala-aand Donderdag gehou, waartydens die projekte bespreek is en die wenners aangekondig is.

Die tema van die aand was Reënboog van Hoop en elke span het ‘n kleur gekry. Die kleure van die reënboog het elkeen ‘n eienskap gekry en die finaliste se vrae wat hulle moes antwoord is volgens dié kleur gevra.

Oomblikke wat uitgestaan het is die R27 000 wat deur Lia en Daniël vir Martha Hofmeyr ingesamel is, Franco en Diana wat die aankoop van ‘n nuwe tuimeldroër by Ons Tuiste aan die gang gesit het en die drie-ton hondekos – ses maande se voorraad – wat deur Deané en Joshua aan die DBV geskenk is.

Waar daar kinders by die projek betrokke is, is daar speelgoed en opvoedkundige materiaal ingesamel, en inwoners van Eeufeeshuis is ook bederf met ‘n speletjiesdag.

Na die finaliste hulle projekte bekend gestel het, was dit tyd vir die wenners om aangekondig te word. Die beoordelaars was André Visser, Werner Christou, Natalie van Wyk en Kylie Campbell.

Die finaliste het altesaam R413 370 vir al agt die projekte ingesamel en het elke ouer, mede-leerder en die gemeenskap bedank vir hulle hulp en bydrae.

Die Polokwane DBV is as projek wenner aangewys en ontvang die geld wat ingesamel is met kaartjieverkope.

Wenners:
• Mnr. Oosskool: Lukas van Reede van Oudtshoorn.
• Mej. Oosskool: Jaime Caldeira.
• 1ste prinses: Deané Fuchs.
• 1ste prins: Regard Conradie.
• 2de prinses: Milandi van Jaarsveld.
• 2de prins: Janko Krog.

Lukas en Jaime het R63 000 in kontant en produkte ingesamel.

“Ek het dit nie verwag om te wen nie. Dit was net lekker,” het Jaime na die tyd gesê.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version