Frederich Naumann sterf kort nadat sy droom waar word

Frederich Naumann word oorleef deur sy ouers, sy kinders, broer en skoonsuster en suster en swaer en niggies en nefies.

POLOKWANE – Plaaslike inwoner Frederich Naumann se droom – om aan kaalvuisgevegte deel te neem – het vir hom vanjaar op 6 Julie waargeword.

Dit sou egter van korte duur wees, aangesien hy slegs meer as ‘n maand daarna, op 30 Augustus oorlede is.

Frederich se bynaam was ‘Ninja’ en hy was ‘n ou hand in die ringgevegarena (cage fighting).

Volgens sy familie was hy altyd op soek na ‘n nuwe uitdaging en het op ‘n keer opgemerk: “Bareknuckle fighting is net soos gewone boks, net sonder die bokshandskoene”.

Sy liefde vir dié sport het reeds op jong ouderdom begin, toe hy saam met sy pa boks beoefen het.

Sy broer, Wilco, vertel Frederich het een groot titelgeveg verloor, maar hy het net aangehou, en nooit opgegee nie.

“Sy deursettingsvermoë is iets wat ek nog in min mense gesien het. Ek het disipline by hom geleer, hy was veral gedissiplineerd waar dit by sy oefening, dieet en gewig gekom het. Hy was ook baie gelowig en het die Bybel ondersoek en baie vrae gevra.”

Sy kinders was volgens Wilco sy hele lewe, “en hy was baie lief vir hulle”.

“So aggresief soos hy in die ring was, so sag en vol humor was hy buite die ring. Hy kon maklik grappe maak oor ‘n situasie. Ons gaan sy teenwoordigheid mis. Ons het baie vir hom omgegee en ons mis hom klaar. Ek wil graag grappe met hom deel, maar hy is nie meer daar nie.”

Frederich was ‘n boekhouer van beroep en ‘n gesinsman wat daarvan gehou het om vis te vang, te swem, en kos te maak. Sy familie was sy grootste ondersteuners.

Hy was omring deur sy familie tydens sy afsterwe. Hy word oorleef deur sy ouers, sy kinders, broer en skoonsuster en suster en swaer en niggies en nefies.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version