Nuwe Piet Pot leiers bly om voor te stap

Die hoofleiers en komiteelede vir 2025 is verlede week gekies en hulle beoog om Hoërskool Piet Potgieter na nuwe hoogtes te neem.

MOKOPANE – Groot opwinding het Dinsdag geheers onder die leerders van Hoërskool Piet Potgieter toe die hoofleiers en komiteelede vir 2025 aangewys is.

Hoofseun Gerard Kruger se missie vir volgende jaar is om die skool op te bou tot ‘n goeie standaard, “want ek weet ons het so ‘n bietjie van koers verander, en ek wil hê ons moet as ‘n leiergroep saamwerk om die skool tot beter hoogtes te vat.

“Ek wil sien hoe Hoërskool Piet Potgieter die beste skool is, ‘n skool op almal se lippe.”

Hoofmeisie Jhemma Forssman het bygevoeg dat sy wil werk aan die skool se trots, “want almal van ons het daardie trots verloor. Ek wil graag die skool se gees verbeter en werk aan die dissipline en almal aanmoedig om passievol en trots te wees op Hoërskool Piet Potgieter.”

Onderhoofmeisie Elrike van der Merwe is opgewonde oor haar nuwe status.

“Ek sien baie uit na wat voorlê en ek voel baie geëerd. Ek kan nie wag om die taak saam met die hoofleiers aan te pak om ons skool na nuwe hoogtes te neem nie.”

“Ek het dit nie verwag om gekies te word as onderhoofseun nie, my hart het sommer vinniger geklop toe ek my naam hoor,” vertel Estian van Wyk.

“My visie is om te werk aan die gees, deelname en trots van my medeleerders.”

Die nuwe komiteelede vir 2025 is:

Sport – Elrike van der Merwe en Johanno van Tonder.

Akademie – Dané Schamrel en Neo Chilengue.

Bemarking – Mia Jansen van Rensburg en Estian van Wyk.

Kultuur – Tshego Setsiba en Rudolf Britzz.

Skoolhoof Ben Habig meen dis ‘n voorreg om as leier verkies te word en hy wens die nuutverkose leiers sterkte toe.

“Aan elke leier wil ek net sê jou maats stel vertroue in jou om leiding te neem in die skool, en ook om hulle belange op die hart te dra, veral vir ons hoofleiers wat ook dan op die beheerligaam gaan dien. Dan wil ek spesiaal vir ons hoofleiers ook sê, ons is in ‘n opwaartse kurwe waarvoor ons baie dankbaar is en julle rol, nie net in die skool nie maar ook in die gemeenskap, sal onder die vergrootglas geplaas word. Ek het volle vertroue in die leierspan wat verkies is vir 2025 en ek sien baie daarna uit om saam met julle te werk. My deur is altyd oop vir ons leerlingraad sou daar enige voorstelle of aanbevelings is sodat ons saam kan bou aan die toekoms.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version