Limpopokleure vir Mokopane fietsryers

Tydens die Limpopo skolefietsrykampioenskappe het die Potties fietsryers baie goed gevaar en verskeie medaljes asook trofeë ingepalm.

MOKOPANE – Na afloop van die Limpopo skolefietsrykampioenskappe se finale rondte wat onlangs in Louis Trichardt gehou is, het Louw Pieterse van die CVO Potgietersrus, Mia Rose Smit en Logan de Graeve van Laerskool Krugerpark, Marlo van der Walt, Henro van der Walt en Bernice Erasmus van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) Limpopokleure ontvang en gaan onder andere in Harrismith en Brits deelneem.

Die volgende ryers het goeie punte behaal tydens die skolefietsryreeks en is ook ingesluit in die Limpopospan: Gerhard Grobler (CVO), William Smit (Krugerpark), Payton de Graeve (Krugerpark) en Maya Boshoff (Pons Learning Centre), Stivan van der Heyde (HPP), Micke Prinsloo (HPP).

Die laerskoolryers gaan vanaf 18-20 Oktober aan die Laerskool Inter-Provinsiale finaal in Harrismith deelneem, terwyl die hoërskoolryers vanaf 20-23 September aan die Hoërskool Inter-Provinsiale finaal in Brits gaan deelneem.

Tydens die kampioenskappe het die Potties fietsryers baie goed gevaar en verskeie medaljes asook trofeë ingepalm.

In die laerskoolkategorie het Laerskool Krugerpark ‘n algehele vierde plek behaal, met Pietersburg Laerskool-Oos se ryers wat die liga gewen het.

In die hoërskoolkategorie behaal HPP ‘n sesde plek terwyl Hoërskool Louis Trichardt as wenners van die liga aangekondig is.

Die Pottiesspanne wen die geesbekers en die skole wat saam oefen wat uit HPP, Laerskool Krugerpark, CVO Potgietersrus en Thorntree Preparatory School bestaan stap weg as die wenspan terwyl Pons Learning Centre aangewys is as naaswenner.

Afrigters Linda en Hein du Plessis is baie trots op elke ryer wat deelgeneem het asook aan elkeen wat vir die Limpopospan gekies is. “Dankie vir ‘n wonderlike seisoen. Potties staan saam as ‘n span en bly die beste.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version