Mokopane maak harte oop vir moedige Dezi

Revision@CAL het hande gevat met die Potgietersrus Rolbalklub en die gemeenskap om fonds te insamel vir Dezaray van Huyssteen wat die stryd van nierversaking in die gesig staar.

MOKOPANE – Dezaray van Huyssteen, beter bekend as Dezi, is ‘n liefdevolle negejarige meisie wat die stryd van nierversaking in die gesig staar, en sy en haar gesin benodig dringend finansiële ondersteuning van die publiek.

Bosveld het voorheen berig dat Dezi reeds sedert 2022 in en uit die hospitaal is.

Haar Ma, Makkie verduidelik dat die dokters haar aanvanklik met ‘n virus gediagnoseer en behandel het, maar dat dit geen beduidende verskil aan haar gesondheid gemaak het nie.

Sy is uiteindelik na Unitas Hospitaal, waar ‘n biopsie op haar niere gewys het dat langdurige medikasie en infeksie waarskynlik skade aangerig het.

Makkie voeg by dat Dezi in Februarie in dieselfde hospitaal opgeneem is met hoë bloeddruk, en is later verskuif na die intensiewesorgeenheid met ‘n nierfunksie van 30%. Sy sê ook dat die uitslae van ‘n tweede biopsie gewys het dat haar niersiekte immuungemedieer is en medikasie is voorgeskryf maar sy is uiteindelik met nierversaking gediagnoseer.

“Sy is volgens die medici ‘n hoërisikopasiënt en sal maandeliks hospitaal toe moet gaan,” sê Makkie.

“In Junie is Dezi weer in die hospitaal opgeneem met nierfunksie van 19% en sy was vir 10 dae in intensief. Die derde biopsie het getoon dat haar niere verhard het, en sy is tans afhanklik van ‘n daaglikse 12-uur dialisesessie tot en met ‘n nieroorplanting gedoen word.”

Daar is egter nog baie toetse wat gedoen moet word, wat finansieel groot implikasies het.

Makkie verduidelik dat sy geen idee het wat volgende moet gebeur nie.

“Indien die probleem geneties is mag nie een van ons in die familie die nier skenk nie. Daar is ook ‘n vermoede dat Dezi ‘n seldsame siekte het en om daardie rede wil die dokter die bloed Amerika toe stuur vir verdere toetse.”

Revision@CAL het die finasiële nood raakgesien en hande gevat met die Potgietersrus Rolbalklub en die gemeenskap, en ‘n baie suksesvolle rolbaldag Saterdag aangebied.

Makkie van Huyssteen is dankbaar teenoor al die rolspelers wat help om geld vir Dezi se mediese uitgawes in te samel.

Hanell Theron vertel dat die dag gereël is ten bate van Dezi vir haar mediese onkoste.

“Dit was ‘n baie suksesvolle dag en ons het R16 400 ingesamel. Ons wil baie dankie sê aan al die besighede, ouers en personeel van Revision@CAL wat ‘n span ingeskryf en gehelp het om die dag te laat gebeur.

“’n Baie groot dankie ook aan die Potgietersrus Rolbalklub wat die baan verniet beskikbaar gestel het en gehelp het om die dag moontlik te maak.

“Dezi se toestand behels gereelde hospitaalverblyf, mediese behandeling ook die aanskaf van duur medikasie en ‘n streng eetplan en gaan daar in die toekoms nog ‘n redelike bedrag spandeer word aan haar mediese koste. Moenie ophou bydra nie, hierdie dogtertjie het almal se ondersteuning nodig.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version