PLS se Theo vat ‘n groot sprong

Theo Jansen is onlangs as adjunkhoof by Hoërskool Ben Vorster aangestel waar hy 'n verskil in die kinders se lewens wil maak.

POLOKWANE – Hy wou eers ‘n prokureur word, maar gedurende Theo Jansen van Rensburg se gr.12-jaar het hy by laerskole betrokke geraak en besluit om van loopbaankeuse te verander.

Theo is onlangs aangestel as adjunkhoof by Hoërskool Ben Vorster nadat hy vir ‘n hele paar jaar by Pietersburg Laerskool eers as studentonderwyser en later as onderwyser gewerk het. Hier was hy ook adjunkhoof.

“Ek wou oorspronklik ‘n prokureur word, maar na ek by die laerskool met krieketafrigting betrokke geraak het, het daai gogga my gebyt en ek het besluit om in die onderwys in te gaan. Onderwysers was nog altyd ‘n groot deel van my lewe en het ‘n groot verskil in my lewe gemaak, ek wou die verskil wees in kinders se lewens soos wat my onderwysers in my lewe was.”

Theo woon reeds vandat hy vier jaar oud is in Polokwane waar hy in Pietersburg Laerskool en Pietersburg Hoërskool was. Waar hy by PLS natuurwetenskappe vir gr. 7’s aangebied het, gaan hy nou in die wetenskappe in die junior hoërskoolfase klasgee.

Oor die bevordering sê hy dat wanneer dit by bestuursposisies kom en jy die regte kwalifikasies het, dit beslis paaie meer gelyk maak en is dit moontlik om as laerskooladjunkhoof na hoërskool bevorder te word.

“Eintlik is dit ‘n wonderwerk van bo.”

Theo se vrou, Sasha-Lee is ook ‘n onderwyser en Theo erken daar moet nou eers bietjie water in die see loop voordat hulle met sekerheid kan sê wat die toekoms inhou. Ek kan wel sê ek kan nie wag om my gesin hier by my te hê nie.”

Oor die geleentheid wat hom gegun is, sê Theo om by ‘n groot skool soos Ben Vorster te werk, is ‘n groot geleentheid. “In ons gebede het ons gevra vir leiding en dat deure wat moet oop bly, oop bly en deure wat moet toe bly, toe bly. Ben Vorster was die oop deur.

“Volgende op my te doen-lysie is om hard te werk en om soveel moontlik te leer by die sterk bestuurspan wat Ben Vorster tans het, en te groei in die onderwys en as leier in ‘n puik gemeenskap.”

PLS wens Theo alle geluk toe. “Ons wens hom en sy gesin voorspoed toe in hierdie nuwe en opwindende rol. Mag hierdie nuwe posisie vir julle ‘n seën wees en mag julle die Here se hand in elke stap ervaar.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version