Ons Tuiste-inwoners dankbaar vir Osies skenking

Franco Kruger en Diana van Jaarsveld, finaliste vir Mnr. en Mej. Oosskool, het onlangs geskenkpakkies by Ons Tuiste gaan aflewer.

POLOKWANE – Om te gee is altyd lekker, maar om vir iemand iets te gee waarsonder hulle nie kan klaarkom nie, maak dit nog lekkerder.

Twee gr.7-leerders van Oosskool het onlangs geskenkpakkies by Ons Tuiste gaan aflewer.

Franco Kruger en Diana van Jaarsveld is as finaliste vir Mnr. en Mej. Oosskool gekies en moes saam met die gr. 2-groep benodighede vir dié tuiste insamel.

Verlede Dinsdag het hulle die ouetehuis besoek en nie net die pakkies afgegee nie, maar ook vir die bejaardes in die verswaktesorgeenheid blomme geneem en ‘n paar woorde met elkeen gewissel.

“Ek is baie lief vir bejaardes en dus is ek baie bly ons het Ons Tuiste as ons projek gekry,” het Diana vertel.

Franco self vertel hy was baie bly toe hy hoor hy is as ‘n finalis gekies.

Saam met die toiletpapier, toiletware en ander benodighede, het die Osies ook kontant aan Carin Meintjes, bestuurder by Ons Tuiste oorhandig.

“Hierdie is nou wel net ‘n druppel in die emmer, maar ons hoop dit bring julle nader aan die bedrag wat julle nodig het vir ‘n nuwe tuimeldroër,” het Franco gesê.

Carin het haar dankbaarheid uitgespreek vir dié jaarlikse inisiatief van Oosskool.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version