‘Gesondheid uit die grond uit’ vir Limpopo aartappelboer

Wouter van Amstel boer al meer as vyf dekades in die Vivo-omgewing en het beklemtoon dat hy die toekenning ook namens die ander boere van Limpopo, wat hom ondersteun het, ontvang het.

POLOKWANE – ‘n Bekende boer van Vivo, Wouter van Amstel is tydens die Vivo Boerebemarkingsdag deur Aartappel SA (ASA) vereer vir sy besondere bydrae tot die aartappelbedryf en het die erkenning met groot nederigheid ontvang.

Van Amstel boer al meer as vyf dekades in die Vivo-omgewing en het beklemtoon dat hy die toekenning ook namens die ander boere van Limpopo, wat hom ondersteun het, ontvang het.

Sy vrou, Wilna het hom deurentyd bygestaan en vertel dat Wouter, ondanks swaar tye, altyd bo uitkom.

“Hy staan vas in sy geloof en glo dat genade hom tot hier gebring het,” vertel sy. Die Van Amstels het vier kinders, twee seuns, ‘n dogter wat ook heeltyds by die boerdery betrokke is, en ‘n dogter wat reeds naamgemaak het in die perdesportgeledere.

Wouter se oupa was ‘n bou-aannemer in Nederland en het, toe dit gedurende die depressiejare moeilik gegaan het in dié bedryf, na die suidpunt van Afrika vertrek saam met sy broers en kinders met ‘n karavaan wat agter op ‘n vragmotor gebou is.

Toe hy by die Blouberge by Vivo aangekom het, het hy daar wortel geskiet en opdrag gegee dat sy bates tuis verkoop word en het nooit weer teruggekeer nie, volgens Wouter.

Wouter boer ook met uie en suikerbone en het later sitrus by sy boerdery ingesluit.

Die sitrusbedryf is egter kapitaalintensief en Wouter het met drie vriende hande gevat en Limpopo Sitrus, wat tans een van die groot produsente in Limpopo is, gestig.

Hy boer ook met Bonsmarabeeste en sy jaarlikse produksieveiling kry baie aftrek.

Volgens CT van der Merwe, ook ‘n gevestigde aartappelboer van die omgewing, is Van Amstel geliefd onder almal in die boeregemeenskap van Vivo.

“Hy is ‘n legende wat bekend is vir sy bedagsaamheid en omgee. ‘n Ysterman met empatie wat altyd tyd maak vir sy mense en ‘n tasbare bydrae tot die gemeenskap lewer,” sê Van der Merwe.

Volgens Willie Jacobs, uitvoerende hoof van ASA, word hierdie toekenning aan individue of instansies oorhandig wat deur hul uitmuntende prestasie ‘n besondere bydrae gelewer het om die aartappelbedryf suksesvol te maak.

“Maar die waardigste ontvanger nog, is jy, Wouter,” het Jacobs tydens die oorhandiging van die toekenning gesê. Die aartappelbedryf het sy kurwes en as jy dit reg kan lees, sal jy suksesvol wees,” glo Wouter en het hoop vir jong manne wat die boerdery hul toekoms wil maak. “As jy reg gekwalifiseer is, is daar altyd ‘n aanvraag vir jou dienste en jy kan inklim,” glo hy.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version