Bekendes by Krugies nou in senior poste

Laerskool Krugerpark is bevoorreg om aan te kondig dat Annatjie de Kock onlangs aangestel is as skoolhoof en Jaco Smit as departementshoof, waar die twee verder hulle passie vir onderwys gaan uitleef.

MOKOPANE – Sedert die begin van die derde kwartaal vanjaar spog Laerskool Krugerpark met twee bekende gesigte in senior poste.

Die Krugies is bevoorreg om aan te kondig dat Annatjie de Kock onlangs aangestel is as skoolhoof en Jaco Smit as departementshoof, waar die twee verder hulle passie vir onderwys gaan uitleef.

Annatjie is vanjaar 30 jaar deel van die Krugiespan nadat sy in 1994 by die skool begin het as ‘n eerstejaaronderwyser.

Sy vertel dat die skool gestig is deur ‘n vrouehoof, Me. Odendaal en dat sy die tweede vrou aan die stuur is en die sesde amptelike skoolhoof van dié skool.

“Ek glo dat my werk as gewone onderwyser my voorberei het as hoof en dat dit my insig gegee het in wat in die klas elke dag gebeur. Dit het my geleer dat niemand dieselfde is of op dieselfde manier werk nie. Dit het my ook geleer van die verwagtinge van ouers, die departement, personeel en kinders. Die belangrikste is dat kinders my geleer het hoe om die mooi en goed in die lewe raak te sien, te waardeer en om baie te lag, selfs vir die kleinste goedjies.”

Sy glo dat die Here haar pad bepaal. Sy het as onderwyser gepoog om elke dag “in God se weë te wandel en Hy maak deure oop wat ons nie altyd aan dink nie”.

“As die skoolhoofpos is waar God my wil gebruik, sal ek dit ten volle doen.”

De Kock vertel om ‘n goeie hoof te wees het jy eienskappe soos geloof, respek, eerlikheid, selfdissipline, luistervermoë, goeie werketiek, empatie en simpatie asook regverdigheid nodig.

“’n Skoolhoof moet toeganklik wees vir alle rolspelers by die skool, maar veral vir die kinders.” Sy balanseer haar pligte by die skool goed omdat sy ‘n baie goeie bestuurspan het, hulle verdeel die pligte rondom die bestuur van die skool en ondersteun mekaar. Sy prioritiseer dit wat op haar tafel beland, dag vir dag. Vir my beteken sukses as ek aan die einde van die dag weet ek het my beste in elke situasie gegee en my beste gedoen om God se wil uit te voer. In die onderwys is kinders wat gelukkig is en die lewe as kinders geniet sukses.”

Smit is vanjaar al 13 jaar deel van die Krugiespan.

Hy vertel dat elke werk uitdagings het, “maar wat is die lewe nou sonder ‘n uitdaging?”

Hy dink die manier waarop ‘n mens verskillende uitdagings aanpak en jou houding teenoor jou werk ‘n reuse verskil maak, en dat net jyself dit kan verander.

“Wees die verskil waarna jy op soek is,” is sy leuse. ‘n Mens moet groei in die lewe en vir jouself doelwitte stel, en dié pos was een van my doelwitte wat bewaarheid was en ek is baie dankbaar vir die mense van die dorp wat in my glo en wat agter my staan. Dit maak ‘n mens se werk net soveel meer passievol.”

Smit gee tans sosiale wetenskappe en vertel dat beplanning ‘n groot rol speel in die onderwys.

“Om alles te balanseer – van sport, akademie asook jou familie en vrye tyd – is dit ook nodig om ‘n balans te hê. Sukses lê eerstens in jou geloof, want dit is waar ons, ons krag vandaan kry en tweedens by jouself asook die mense naaste aan jou. As jy sekere drome en ideale het en jou omring met positiewe mense, maak dit vir jouself net baie makliker.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version