96 goue jare vir Tannie Gerra van Schalkwyk

Tannie Gerra van Schalkwyk het onlangs haar geboortedag saam met die bejaardes en haar kinders by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis gevier.

MOKOPANE – Altesaam 96 jaar gelede, op 20 Augustus 1928, het Tannie Gerra van Schalkwyk vir die eerste keer die lewenslig aanskou.

Sy het onlangs haar geboortedag saam met die bejaardes en haar kinders by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis gevier.

Tannie Gerra, die jongste van agt kinders, vertel hoe sy op die plaas Witkop, in die Nigelomgewing grootgeword het.

“Ons het almal op Modderbult skoolgegaan. Toe ek ses jaar oud was, is my pa oorlede en moes van die ouer kinders skool verlaat en gaan help op die plaas.”

Sy voeg by dat hoewel dit met tye swaar gegaan het, daar lekker tye ook was met baie herinneringe. ‘n Hoogtepunt van haar grootwordjare was om skool toe te kon ry met die donkiekar.

“Ons het vroeg opgestaan, die donkies ingespan en die pad aangedurf skool toe. En as die rivier afgekom het, het ons maar tuisgebly.”

Tannie Gerra het skoolgegaan tot standerd agt (gr.10) en in dié jaar was sy ook die skool se hoofmeisie. Sy sê trots dat sy sport geweldig geniet het en haar hele skoolloopbaan korfbal gespeel het.

Na skool het die pad haar Johannesburg toe gevat, om by haar suster te gaan woon en in daardie tyd word sy uitgenooi na ‘n 21ste verjaarsdagpartytjie.

“Op die partytjie is my voete onder my uitgeslaan toe ek my droomman, Hennie van Niekerk, raakloop. Dit was liefde met die eerste oogopslag, maar dit het ‘n rukkie geneem voordat ek ingestem het op ‘n verhouding,” vertel sy tong-in-die-kies.

Die twee het die knoop deurgehaak op 9 April 1949 en vestig hulle in Benoni waar haar man werk as verkoopsverteenwoordiger.

Sy het eers ‘n halfdagpos beklee voordat sy kans gesien het vir die harde werklikheid van groter maatskappy, waar sy uiteindelik as kosteberekingsklerk gewerk het.

Uit die huwelik is drie kinders gebore, Osie, Pieter en Ansie.

Haar man is egter gediagnoseer met ‘n seldsame siekte, akromegalie, en hy moes die leisels oorhandig aan tannie Gerra wat nog lank aanhou werk het om die pot aan die kook te hou.

Na haar aftrede het hulle besluit om die huis te verkoop en te verhuis na die destydse Potgietersrus.

“Ons het eers in ‘n meenthuis gewoon en terwyl ek in die oggend gewerk het, het ‘n versorger na Hennie, wat toe al bedlêeend was, omgesien,” sê sy.

“Hy het egter so verswak dat ek later verplig was om hom te laat opneem in die ouetehuis se Kosmosafdeling. Die mense daar het my wonderlik gehelp en bygestaan maar Hennie is later oorlede. In 1996 het ek vir Fon van Schalkwyk raakgeloop en het ek, soos my eerste huwelik, ‘n wonderlike lewe saam met hom gehad.”

Tannie Gerra vertel dat Fon haar gereeld bederf het met vakansies en in 2010 besluit die twee om vir hul ‘n woonstel te koop by die ouetehuis. Hy het egter ook siek geword, en uiteindelik was sy weer alleen.

Omdat daar so baie herinneringe vir haar aan die woonstel was, het Tannie Gerra nog ‘n paar jaar daar aangebly voordat sy teen einde Januarie verlede jaar besluit het om eerder in ‘n kamer in die ouetehuis in te trek. Sy sê self, dat dié stap, “vir die statige tannie wat baie besorg is oor haar voorkoms, ‘n geweldige aanpassing was”.

Haar dogter, Ansie Holtzhausen, verduidelik dat haar ma se verstand nog helder was toe sy die skuif gemaak het maar as gevolg van twee keer se harde val is haar gehoor geleidelik aangetas.

“Die Here se genade was groot,” sê Ansie. “Sy het wonderbaarlik herstel hoewel sy nou in ‘n rolstoel is.”

Tannie Gerra sê haar resep om so oud te kon word is haar positiewe ingesteldheid, haar geloof en haar deursettingsvermoe.

“Ek is baie gesteld op menseverhoudings en wil met almal gesels en hulle moed inpraat. Ek wil aan almal rondom my sê: geniet elke dag, gee om vir jou medemens. Bid elke dag en vertrou op God vir elke behoefte wat jy het en gee altyd aan God al die eer.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version