Attie Vermaak: Stad groet ‘n reus

Attie Vermaak word oorleef deur sy vrou vir 30 jaar, Skieppie, kinders, skoonkinders, 10 kleinkinders en ses agterkleinkinders.

POLOKWANE – ‘n Jarelange inwoner van die stad en voormalige stadsklerk, Attie Vermaak is verlede Woensdag in die ouderdom van 83 jaar na ‘n lang siekbed in Martha Hofmeyr Tehuis oorlede.

Vermaak is gebore en getoë in Pietersburg en het aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer, waarna hy in die regte aan die Universiteit van Pretoria afgestudeer het.

Hy het daarna by die Stadsraad van Pretoria gewerk en het hom in 1969 in die destydse Pietersburg gevestig waar hy as stadsekretaris aangestel is.

In 1978 word hy aangewys as stadsklerk van Pietersburg, ‘n pos wat hy met onderskeiding beklee tot sy aftrede in 1997.

Oudburgemeester en munisipale raadslid, dr. Nic van Reede van Oudtshoorn het meer as 20 jaar saam met Vermaak ervaar en beleef.

“Die op-en-af van die politiek, die woelinge met die demokratiseringsproses en die bestuur en suksevolle oorhandiging aan ‘n nuwe regime was ‘n hoogtepunt,” meen Van Reede van Oudtshoorn.

“Ek het die voorreg gehad om drie stadsklerke te ken – Attie was die beste,” voeg hy by.

Volgens Van Reede van Oudtshoorn het Vermaak met toewyding gehelp met die totstandkoming van Eeufeeshuis, die sentrum vir volwasse intellektueel en liggaamlik vestremdes in die stad, en was hy ook ‘n stigterslid van die Bosveldjagtersvereniging en die Pietersburgklub sedert 1973 en intens betrokke by die ontwikkeling van die klub en voorsitter van die direksie van 2000 tot 2003.

“Na my mening, die grootste geskenk wat Attie aan Pietersburg kon gee was die verwerwing van stadstatus,” sluit hy af.

Sakeman Jannie Moolman sê wat hom die meeste sal bybly van Vermaak is sy innemendheid en vriendelikheid teenoor ander mense en daarby sy professionaliteit.

“Tydens sy lang diens as ‘n senior amptenaar en later stadsklerk van die destydse Pietersburg Munisipaliteit was hy ‘n uitmuntende leier wat ongeag die veranderende politieke omgewing, altyd diens aan die gemeenskap vooropgestel het. Dit was anders as vandag. Hy het ook die leiding geneem met die moeilike oorgangsperiode na 1994,” sê Moolman en voeg by dat sy vriend ‘n avontuurlustige mens was, waarvan sy vele grootwildjagtogte en klim van die berg Kilimanjaro getuig.

“Ek kon my verluister aan sy stories. Hy was ‘n grapmaker met ‘n goeie humorsin en ‘n seremoniemeester by uitstek. Sy liefde vir sy beesboerdery en die natuur sal ons onthou.”

Volgens Moolman was Vermaak ‘n plat-op-die-aarde mens.

“Hy het ‘n groot terugslag met die poging tot moord op hom oorleef en ons kan ten spyte daarvan sê hy het ‘n goeie, vol lewe gehad. Ons kan dit met liefde en teerheid saam met sy familie herdenk. Ons groet ‘n grote,” getuig Moolman.

Vir oudkollega Stefan Bosman was dit ‘n eer en voorreg om saam met Vermaak vir die grootste gedeelte van sy munisipale loopbaan te werk.

“Hy het intense belangstelling in elke amptenaar gehad, elkeen waar ek teenwoordig was se naam het hy persoonlik geken. Elkeen onder hom het op ‘n gemoedelike manier kennis opgedoen en dit was vir hom altyd ‘n prioriteit, om die munisipale gemeenskap te dien en ons stad ‘n beter plek vir almal te maak. Ek sal sy wonderlike menswees en sin vir humor mis,” meen Bosman.

Afgetrede sakeman, Dirk de Klerk het Vermaak geken as ‘n vriendelike en betrokke stadsklerk wat groot deernis vir kinders gehad het en skole altyd saam met die skoolraad onvermoeid bygestaan het as dit by munisipale sake gekom het.

“Hy was ‘n gemeenskapsman wat vir almal tyd afgestaan het en saam met Jack Botes ‘n groot aandeel gehad het om Pietersburg as ‘n stad te proklameer,” sê De Klerk.

Carine Grové onthou haar pa as ‘n “gentleman” met ‘n ongelooflike sin vir humor.

“Oud en jonk was lief vir hom en hy het jou altyd laat voel jy is die belangrikste,” getuig Grové en voeg by dat hy baie lief was vir kinders.

Sy dogter, Glenda Vogel onthou Vermaak as ‘n gesinsman. “Hy het uitgevra en belanggestel in die welstand van almal om hom.

“Sy vrou, Skieppie was sy ‘happy place’ en hy was ewe lief vir sy eie kinders en sy aangetroude kinders,” vertel Vogel.

Vermaak word oorleef deur sy vrou vir 30 jaar, Skieppie, dogters en skoondogters Carine Grové, Tiffany Vermaak, Sylvia Kennedy, Nadine de Jager en Glenda Vogel en seuns en skoonseuns Attie en Cilliers Vermaak, Henk Boshoff en Willie Lindeque en 10 kleinkinders en ses agterkleinkinders.

‘n Diens om Vermaak se lewe te vier, is Maandag by die N.G. Kerk Pietersburg-Noord gehou.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version