Martha Hofmeyr: 50 jaar van diens

Martha Hofmeyr Tehuis huisves tans 89 inwoners en sluit ‘n demensie-afdeling, eenheid vir verswakte bejaardes en ‘n hoësorgeenheid in.

POLOKWANE – Martha Hofmeyr Tehuis vier vandeesmaand sy 50ste bestaansjaar en die bestuur van hierdie inrigting het reeds ‘n konsert deur pianis Rocco de Villiers by Bradbury Landgoed aangebied om geld in te samel.

De Villiers het ook by die tehuis ingeloer om die seniors, op eie bodem te vermaak.

Op 4 September tree Steve Hofmeyr by Bolivia Estate op, ook om geld in te samel vir die tehuis en ‘n basaar waar plaaslike kunstenaar Will Jordan sal optree, vind op 5 Oktober plaas.

In 1955 is daar grond aangekoop teen 5 000 pond en het die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) die Martha Hofmeyr Kraaminrigting gestig.

Talle babas is hier gebore en die huidige finansiële bestuurder van SAVF Vergeet-My-Nie Behuisingsentrum en Martha Hofmeyr Tehuis, Alfred van der Merwe en DA parlementslid, Desiree van der Walt is twee van die bekendes wat daar die eerste lewenslig aanskou het.

Toe die provinsiale subsidie vir hierdie fasiliteit later gestaak is, is dit gesluit en het die deure van Martha Hofmeyr Tehuis vir verswakte bejaardes sy deure op 14 Augustus 1974 geopen onder die vaandel van die SAVF.

Martha Hofmeyr Tehuis huisves tans 89 inwoners en sluit ‘n demensie-afdeling, eenheid vir verswakte bejaardes en ‘n hoësorgeenheid in. Opgeleide personeel lewer ‘n 24-uur-per-dag diens.

Volgens die algemene bestuurder Marietjie Smit, word groot veranderinge by Matha Hofmeyr Tehuis beplan.

“Seniors wil graag nog ‘n mate van privaatheid geniet en ons gaan binnekort al ons kamers omskep in eenhede wat ‘n eie badkamer insluit. Die bedryf van die kombuis is ook uitgekontrakteer en die diensverskaffer voorsien 330 etes per dag,” verduidelik Smit en voeg by dat leerders van Laerskool Pietersburg-Oos tans besig is om geld in te samel om ‘n teetuin vir inwoners in te rig.

Smit het haar dank uitgespreek teenoor die publiek en sakelui wat die inrigting ondersteun en ‘n beroep op almal gedoen om hulp te verleen.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version