Local News

Schalk Pienaar moord: Onskuld en ongeloof

Tsholofelo Joseph Motsoane het tereggestaan op aanklagte van moord, sameswering tot moord en vuurwapenverwante klagtes, en was vermoedelik die bestuurder van die wegkommotor na Pienaar geskiet is.

MOKOPANE – As familie het hulle bly hoop dat die man wat verantwoordelik was vir haar man se dood in 2022, aan die pen sou ry.

So het Fransie Pienaar, die vermoorde plaaslike prokureur Schalk Pienaar se weduwee, verlede week opgemerk na Tsholofelo Joseph Motsoane, die beskuldigde in die moordsaak in die Hooggeregshof in Polokwane vrygespreek is.

Fransie en Bardien Pienaar.

Motsoane het tereggestaan op aanklagte van moord, sameswering tot moord en vuurwapenverwante klagtes, en was vermoedelik die bestuurder van die wegkommotor na Pienaar geskiet is.

Lees ook: Schalk Pienaar-moordsaak: Borg nie toegestaan

Bosveld het voorheen berig hoe Pienaar op 19 September 2022 vermoor is, kort nadat hy by die huis aangekom het.

Hy is 10 keer in sy motoroprit geskiet en het in sy vrou se arms gesterf. Motsoane is ‘n maand later gearresteer.

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, wat die Pienaar-gesin verteenwoordig en vergesel het na die hof, het in ‘n mediaverklaring bevestig die enigste getuienis wat Motsoane met die saak verbind het, was sy bekentenis. Die regter het egter beslis dat dit alleen nie genoeg was om hom skuldig te bevind nie.

Lees ook: Pienaarmoord: Verdagte hoor dán oor borg

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid het bygevoeg dat die vervolgingseenheid uiteraard teleurgesteld is oor die saak se uitslag en beplan om binnekort ‘n vergadering met die Pienaargesin te hê.

Fransie het aan Bosveld vertel hoe traumaties die hofverrigtinge vir hulle gesin was.

“My familie is stukkend en dis baie traumaties om elke keer deur die hofverrigtinge te sit en keer op keer die dag te beleef wat my geliefde van my af weggeskeur is. Dit is moeilik om deur hierdie verrigtinge te sit, en nog moeiliker om aan te beweeg met jou lewe as daar geen uitsluitsel is nie. Ek is baie teleurgesteld oor die uitkoms en is nog onseker wat die pad nou vorentoe is maar ek is dankbaar teenoor AfriForum vir hulle ondersteuning.”

Sy vertel hoe hulle familie vroeër vanjaar, toe daar in Motsoane se borgtogaansoek verwys is na sy uitgebreide misdaadgeskiedenis wat terugdateer tot 2003 en die feit dat hy reeds vonnisse uitgedien het vir afsonderlike sake van poging tot moord, roof en diefstal, “gehoop het dat die misdadiger aan die pen sal ry”.

Motsoane is in daardie tyd ook daaraan skuldig bevind dat hy uit aanhouding ontsnap het terwyl hy verhoorafwagtend was oor twee van die sake.

“Schalk het in geregtigheid en die regstelsel geglo en ek glo steeds Schalk gaan ook sy dag in die hof kry,” het Fransie afgesluit.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Raeesa Sempe

Raeesa Sempe is a Caxton Award-winning Digital Editor with nine years’ experience in the industry. She holds a Bachelor’s Degree in Media Studies from the University of the Witwatersrand and started her journey as a community journalist for the Polokwane Review in 2015. She then became the online journalist for the Review in 2016 where she excelled in solidifying the Review’s digital footprint through Facebook lives, content creation and marketing campaigns. Raeesa then moved on to become the News Editor of the Bonus Review in 2019 and scooped up the Editorial Employee of the Year award in the same year. She is the current Digital Editor of the Polokwane Review-Observer, a position she takes pride in. Raeesa is married with one child and enjoys spending time with friends, listening to music and baking – when she has the time. “I still believe that if your aim is to change the world, journalism is a more immediate short-term weapon." – Tom Stoppard

Related Articles

Back to top button