Kierieklapper, wat ‘n fees!

Die Kierieklapper Kunstefees het vanjaar weer ‘n hele paar hoogtepunte opgelewer soos Lizz Meiring wat die fees afgeskop het in Hoërskool Piet Potgieter se skoolsaal met haar produksie van ‘Een Keer is Genoeg’.

MOKOPANE – Die immergewilde Kierieklapper Kunstefees het vanjaar weer vir groot pret en baie vermaak gesorg.

Die lekker warm Bosveld-klimaat het jonk en oud aangemoedig om te deel in die wonderlike atmosfeer, en duisende feesgangers kon hulle verkyk aan alles en nog meer wat by die verskeie stalletjies aangebied is.

“Hierdie fees het sy uitdagings gehad, maar dit is vir my wonderlik om te bevestig dat die kaartjies uitverkoop was soos die feesgangers deur die hekke gestroom het,” vertel Hannetjie Bam, die bestuurder van die Dienssentrum vir Bejaardes.

Sy voeg by dat die fees jaarliks aangebied word as geldinsamelingsprojek vir die dienssentrum.

Die fees het vanjaar weer ‘n hele paar hoogtepunte opgelewer soos Lizz Meiring wat die fees afgeskop het in Hoërskool Piet Potgieter se skoolsaal met haar produksie van ‘Een Keer is Genoeg’, en waarmee sy beslis die gehoor se lagspiere geprikkel het.

Op die feesverhoog was Eloff, Samantha Leonard, Appel, Bernice West en Loufi ‘n groot trekpleister. Daar was natuurlik ‘n hele paar optredes wat groot skares gelok het: die trompoppies extravaganza waar sewe skole hulle talent kom wys het, die dansers van Z’s Dance School, asook die speletjies en danskompetisies wat gehou was.

Bee Bee die By het die jong klomp vroeg Saterdagoggend kom vermaak met ‘n vertoning en die jong gesiggies behoorlik laat straal.

Die Mej. Kierieklapper-kompetisie was vanjaar ‘n groot hoogtepunt met ’n totaal van 32 deelnemers.

Die modelle was uitgevat in hulle Wilde Afrika uitrustings wat vanjaar se tema was.

Wilhrisca Britz, Surette van der Berg en Jacqueline Jacobs was die beoordelaars en het behoorlik moes dink om ‘n wenner uit die groep te kies.

Vanjaar se Mej. Kierieklappertitel behoort aan Amoné Swart, en eerste prinses is Kayla Lubbe en tweede prinses is Luné Otto. Die Mev.

Kierieklappertitel gaan aan Elmarie Pool, met Ingrid Mhlari as eerste prinses en Vanessa Olivier as tweede prinses.

Sondagaand het Cordelia die vermaaklikheid afgesluit in die N.G. Hulp en Hoop Gemeenskapskerk.

Die komitee bedank die gemeenskap wat die fees ondersteun het asook al die borge wat betrokke was, alles ten bate van die Dienssentrum vir Bejaardes.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version