Sy lewe vir haar passie vir opgrawings en gebeentes

Hester Roodt het haar passie vir argeologie gevolg en voortdurend van kulture en gebruike geleer deur bene te bestudeer.

POLOKWANE – Plaaslike inwoner Hester Roodt het reeds in gr. 4 ‘n intense belangstelling in argeologie ontwikkel.

Sy vertel hoe sy herhaaldelik ‘n spesifieke boek by die biblioteek uitgeneem het, al het sy nie die woorde verstaan nie.

‘n Paar jaar later, toe sy na beroepe begin kyk, was dié liefde vir argeologie steeds sterk en haar pa skryf ‘n brief aan Wits om navraag te doen.

“Hulle het teruggeskryf en laat weet dit is nie die werk vir ‘n vrou nie, en dat ek dit eerder as stokperdjie moet oorweeg.”

Hester het haar nie laat onderkry nie, en het eers verpleging en daarna, kuns studeer.

Al was haar ma ‘n goeie en geliefde verpleër, kon Hester net ‘n jaar lank hierdie rigting volg voor sy besluit het om iets anders te studeer.

“Ek het kuns studeer, maar my ma het my oortuig mense koop nie kuns nie. Ek het besluit om eerder onderwys te studeer en toe my honneursgraad in argeologie gedoen. Iewers moes ek statistiek ook leer.”

Gedurende haar studentejare het sy ook anatomie studeer en dit geniet om geraamtes uit te lê.

Sy het vir ‘n hele paar jaar in Umgungundlovu gewoon waar sy byna daagliks in Dingaanstat gaan rondloop het.

“Dit was wonderlik. Ons het vir twee jaar na Dingaan se hut gesoek. Ek het permanent soos ek loop op die grond gekyk. Ons het op die afskorting waar Dingaan sy 600 vroue aangehou het, afgekom. Na vele gesoek waar ons vierkante van 1x1m gegrawe het, het ons uiteindelik die hut se vloer gesien.”

Hester kry uiteindelik die geleentheid om Egipte te besoek en studeer Egiptologie, wat sy nie kon voltooi nie.

Sy het wel hiërogliewe begin leer, maar erken dit is iets wat jy heeltyd moet beoefen – “anders verleer jy die kuns”.

“Ek het vir drie jaar by Amafa gewerk en geleer wat ek mag of nie mag opgrawe nie. Ek het gevoel ek kan regtig iets doen en beteken.”

In Februarie het sy die kans gekry om betrokke te raak by die konsentrasiekampbegraafplaas waar sy onder andere, die grafte regmaak.

“Ek het baie opgelees oor die wette wat op geskiedkundige begraafplase van toepassing is. Ek kon my passie regtig begin uitleef, en waar ek nou is, is dit meer as wat ek ooit gedink het dit sal wees. Ek wil weet wat hier aangaan, hoe dinge gemaak is en waar dit gekry is. Ek kan na potwerke met verskillende patrone kyk en bepaal hoe oud dit is. Ek leer ken ook die kulture en hulle gebruike, byvoorbeeld, wanneer ‘n kultuur jong diere slag, is hulle meer welvarend. Wanneer hulle die ouer diere slag, is hulle armer. Dit kan ek agterkom deur na diere se gebeendere te kyk.”

Hester verduidelik dat bykans enige ander beroep by argeologie inpas. Volgens haar is die beroep nie dood nie, en moet almal wat grond wil ontwikkel, ‘n argeoloog kry om ‘n impakstudie te doen.

Daar kan ook slegs van spesialiste gebruik maak wanneer ‘n geskiedkundige area skoon gemaak of herstel word.

Om hierdie grafte reg te maak het ‘n emosionele tol op Hester, want met ‘n sagte hart leef sy haar in elke persoon se lewe in, dink aan alles wat hulle ontbeer het en ook hoe hulle gelewe het.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version