Local News

Be That Guy saam met Jo Black

Jo Black en sy broer, Willem Engelbrecht, se Be That Guy is toegespits om jong mense te bemagtig.

POLOKWANE – “Mense vrees dikwels die nommer ses, veral as dit ‘n trippel ses is.”

Só vertel Jo Black aan ‘n saal vol mans tydens ‘n Be That Guy (BTG) Manneaand verlede Donderdagaand, wat aangebied is met die doel om geld in te samel vir dié organisasie se kampe.

Be That Guy is daarop toegespits om jong mense te bemagtig.

Jo het ‘n tradisie ingestel, vertel hy om, om 06:00 saam met ‘n groep mans te braai, koffie te drink en te gesels, want, sê hy, “wanneer die manne om die braaivleisvuur praat, praat hulle oor dit wat regtig saakmaak”.

“Daar is net twee reëls by hierdie braai. Eerstens vra ons nie vir mekaar wat ons doen vir ‘n lewe nie en tweedens praat ons nie op die braaier se hand nie. Almal het ‘n vooropgestelde idee van iemand anders, almal het innerlike worsteling wat hulle probeer wegsteek. Ons as mans moet praat oor hoe ons voel. Van jongs af leer ons om nie te huil en oor ons gevoelens te praat nie. Dan kan mense nie verstaan waarom mans selfmoord pleeg nie.”

Jo het die gewoonte van ses mense wat ‘n doodskis dra gebruik, en vir die manne gevra wie is hulle ses mense.

“By ‘n begrafnis praat niemand oor wat die persoon gehad het nie, maar eerder oor wie hy was, oor sy karakter. Die kis wat by ‘n begrafnis gedra word is die swaarste kis wat enige iemand ooit sal dra. Dit verg ses mense om die ses handvatsels te vat en die kis in en uit die kerk te dra. Dan word die kis ses voet diep begrawe.”

Hy noem dat die mens in ses dae gemaak is en in die Bybelse tyd kon ‘n slaaf na ses jaar se harde werk, bevry word.

“Sewe, aan die anderkant, is ‘n Goddelike nommer. Die ses wat die kis dra plus die persoon in die kis, maak sewe. Die vraag is waar was daardie ses mense toe die een hulle nodig gehad het. ‘n Mens put krag uit sewe.”

Hy gebruik verder die bou van ‘n muur om te illustreer hoe elke mens ses mense nodig het.

“‘n Muur is sterk omdat elke steen aan ses ander stene raak. Ons moet almal ses goeie pelle hê. Twee wat onder jou is, wat jou aanvaar vir wie jy is en nie omgee oor waar jy vandaan kom nie. Dan is daar die twee wat langs jou is. Hulle ken jou deur en deur en aanvaar jou sonder oordeel. Die laaste twee is bo jou. Hulle trek jou na hoër hoogtes toe.”

Jo sluit af deur te verduidelik hoe mans vir mekaar moet uitkyk. Hoe elkeen talente en gawes het wat ander kan help.

“Slegte dinge gebeur omdat goeie mans nie opstaan nie. Be that guy wat jý nodig gehad het.”

Almal wat die aand bygewoon het, was dit eens dat dit ‘n ervaring soos min was.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button