Dian (15) lui goeie tyding klok

Om die einde van 'n pasiënt se kankerbehandeling aan te kondig, word 'n klokkie gelui, en Dian kon dit verlede maand met trots lui.

POLOKWANE – Die gelui van ‘n klok beteken dikwels die begin of einde van ‘n gebeurtenis: Die begin en einde van ‘n erediens, skooldag en selfs jou hospitaalverblyf.

Om die einde van ‘n pasiënt se reis met kanker aan te kondig, word daar op die laaste dag van hulle behandeling ‘n klok gelui.

Dit is ook hierdie klok wat Dian Lombard (15) verlede maand met trots kon lui en vir almal verkondig dat hy nie wéér die klok gaan lui nie.

Dian is op 12-jarige ouderdom met akute limfoblastiese leukemie (ALL) gediagnoseer en het in Julie sy laaste behandeling ontvang.

“Ek het die klok drie keer gelui. Een keer toe my bestraling verby is, een keer na die intensie aggressiewe behandeling verby was en nou, nadat alles verby is. Ek gaan nie terug nie, so ek gaan nooit weer daai klok lui nie.”

Dian het destyds begin sleg voel en gekla dat sy bene seer is.

Die dokter het dit aanvanklik toegeskryf aan groeipyne, maar ‘n dag later is hy in die hospitaal opgeneem.

Sy ma, Liesl, sê hulle was nie tuis toe Dian hulle bel en sê hy voel sleg nie.

“Toe ons by hom kom was sy vel byna deurskynend. Sy liggaam het in skok gegaan. By die hospitaal het die dokters vermoed dit is sy blindederm wat probleme gee aangesien hy pyn in sy lae rug en bo-bene ervaar het.”

Die soektog na ‘n diagnose het begin en hy het die eerste van vele bloedprodukte ontvang.

Hy is ook vir leukemie getoets en toe dié uitslag positief was, het die onkoloog hom moed ingepraat deur te sê dit is nie ‘n doodsvonnis nie.

“Dian is oorgeplaas na Netcare Unitas Hospitaal in Pretoria waar hy vir die eerste 28 dae baie sterk behandeling gekry het. Ons het in een van die Choc-huise gebly. Na die 28 dae het ons ‘n week gehad om huis toe te kom en daarna het die bestraling begin.”

Vir die volgende drie jaar het die gesin tussen Polokwane en Pretoria gereis terwyl Dian sy behandeling ontvang.

As ‘n leerder by Pietersburg Laerskool kon hy sy laerskoolloopbaan aanlyn voltooi.

Hy het ook later by Hoërskool Pietersburg, waar hy tans in gr. 10 is, se hokkiespanne aangesluit waar hy saam met hulle kon speel wanneer hy wel tuis was.

Alhoewel die behandeling verby is, moet hy nog gereeld vir opvolgbesoeke gaan.

Vir die eerste ses maande moet hy elke tweede maand gaan en elke maand vir bloedtoetse.

“Sy plaatjietelling is steeds laag, en hy is baie vatbaar vir siektes. As sy neus bloei is daar moeilikheid en hy kan inwendige bloeding hê. Hy mag ook nie sekere kosse eet nie en moet wegbly van wegneemetes. Hy mag nie rou eier eet nie en dus is lemon meringue en koekpan-uitlek buite die kwessie. Hy moes ‘n totale leefstylverandering ondergaan. Alhoewel ons aan ‘n goeie mediesefonds behoort, is dit steeds baie duur. Daar is heelwat ekstras waarvoor die medies nie betaal nie. Die behandeling verskil van pasiënt tot pasiënt,” vertel sy ma.

Dian se vriende is baie ondersteunend, al was daar ‘n tyd toe ander leerders hom gespot het oor sy hare.

As gevolg van die behandeling het sy liggaam ophou groei en het hy ‘n paar maande terug eers begin rek.

Hy het ook begin jukskei speel, en het tydens sy eerste ligawedstryd goed gevaar.

Liesl sê Dian is regdeur die diagnose en behandeling altyd positief en hulle lag en speel graag as familie saam.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version