PHS ‘Die Walter’ verwelkom almal

Walter Mulaudzi is 'n groot deel van PHS, soveel so dat die skool her besluit om hom met 'n naambord bo sy waghuis te vereer.

POLOKWANE – Walter Mulaudzi is al die afgelope nege jaar reeds deel van PHS, en volgens dié wat weet gaan jy ver soek vir ‘n knapper sekuriteitswag.

Vroegoggend, lank voor die leerders en onderwysers van Hoërskool Pietersburg by die skool opdaag, het hy reeds al die hekke op die terrein oopgemaak en vir die res van die dag is hy gewoonlik by sy waghuis, by die hoofingang van die skool.

Hy vertel trots dat hy ongeveer 95% van die leerders en hulle ouers se name ken, “en beslis 100% van die personeel”.

Bykans elke persoon wat by die skoolhek ingaan, word op sy of haar naam gegroet, met ‘n groot glimlag.

Dit is dan ook hiérdie besonderse eienskappe van Walter, wat die skool se gr. 10-leerders laat besluit het om Walter te vereer.

Walter Mulaudzi se wagkamer naamplaat.

Verlede week is ‘n nuwe naamplaat, Die Walter, by die waghuis opgesit en sedertdien kan Walter nie ophou glimlag nie.

“Ek werk baie lekker by PHS. Almal is altyd vriendelik en daar word nooit baklei nie. Almal, van die kinders en hulle ouers tot die personeel, behandel my mooi.”

Walter se pligte behels meer as net hekke oop en toe sluit.

Hy moet elke pienk briefie wat siek kinders moet hê om dokter toe te gaan, nagaan en terugbesorg by ontvangs.

Hy maak ook seker al die besoekers skryf hulle name en vanne in die boek en kry ‘n besoekerskaartjie voordat hulle deur die hek kan beweeg.

“Ek sorg dat die omgewing waarin ek werk, skoon is. As die vullisblikke vol raak, meld ek dit aan sodat dit skoongemaak kan word. As daar takke is wat ouers se motors kan beskadig, sorg ek dat dit afgesny word. Dan, wanneer die skoolgrond verlate is en almal huis toe, sluit ek weer die hekke toe.”

Walter stap die ekstra myl deur besoekers te help om op die regte plek op die skoolgrond te wees; hy neem pakkies wat deur koerierdienste afgelewer word en hou dit tot die eienaar dit kan kry, en heel dikwels sal jy hom sien met ‘n tas of sak in sy hande waar hy die kinders help dra.

Die skool het hulle dank aan Walter in ‘n Facebook plasing betoon.

“Walter is daagliks die gesig van PHS en sy vriendelike glimlag en hartlike groet maak hom ‘n ware Pietie-legende onder ons leerders en selfs besoekers. Baie dankie Walter vir jou onvermoeide werk en dat jy altyd daar is vir ons skoolgemeenskap.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version