Op die planke saam Matter of Act

Tamarin Engelbrecht het haar dramaskool oopgemaak waar sy hoop om onderrig te gee en haar liefde vir teater met kinders te deel.

POLOKWANE – Op 29 onthou Tamarin Engelbrecht steeds die woorde van die gedig wat sy as gr. 1-leerder moes opsê: ‘n Gediggie wat haar liefdesvuur vir drama aangesteek het.

Vandag wil sy dieselfde liefde aan ander oordra en dit is waar haar dramaskool sy oorsprong het.

Tamarin het in Bela-Bela grootgeword en naskool B.ed musiekteater studeer.

“Ek was self in die bedryf maar het vinnig besef ek gaan honger ly. Alhoewel ek ‘n diep liefde vir drama het, het die Here my in ‘n ander rigting gestuur. Ek het met kinders wat remediërende onderrig nodig het, begin werk. Die drama kom steeds handig te pas in die klas.”

Tamarin is dit eens dat drama ‘n verpligte vak in elke skool moet wees.

“Drama gee jou selfvertroue en jy gebruik die vaardighede wat jy aanleer vir die res van jou lewe. Onderwysers is ook maar aktrises in die klas en selfs as jy ‘n voorlegging moet gee, gaan jy dankbaar wees vir die dramalesse wat jy gehad het.”

Tamarin erken sy wil nie die volgende Charlize Theron na vore bring nie, maar eerder vir kinders ‘n liefde vir teater aanleer.

Drama maak vir haar saak, en daarom het sy met woordspeling, haar dramaskool Matter of Act genoem.

“My droom is om ‘n Matter of Art en Matter of Music te stig, want hierdie dinge maak saak en is belangrik vir ‘n mens se persoonlike groei. Ek wil ook graag ‘n ateljee hê waar mense net kan instap en van al hulle probleme vergeet, en net hulle self kan wees. Toneelspeel help jou om uiting aan jou emosies te gee. Vir kinders is dit speel sonder dat hulle besef hulle leer iets.”

Na haar studies het Tamarin in Pretoria gewoon waar sy ook dramaklasse aangebied het.

Sy was twee keer by die World Championships of Performing Arts® waar sy goue medaljes ontvang het en van haar studente het ook deelgeneem.

Sy vertel hier kan deelnemers beurse om in Amerika te studeer, losslaan.

“Drama is soos fantasiespel. Dit help met jou verbeelding wat op sy beurt die res van jou lewe nodig gaan wees. Dit is ook baie stimulerend vir kinders met ATHV en laat kinders wat voel hulle behoort nêrens, voel dat hulle behoort.”

Tamarin en haar studente sal eersdaags in die teaterstuk, Pinocchio, by The Village Theatre te sien wees.

Sy is Sersant Gina (die eend) en help met die choreografie van die dansers.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version