Local News

Mokopane brand: Brandweerpersoneel werk nie 24-uur nie

‘n Inwoner van die huis is met geringe beserings na ‘n hospitaal in Polokwane geneem vir behandeling, terwyl die huis tot op die grond verwoes is in die brand, met die motorhuis as enigste uitsondering.

MOKOPANE – Inwoners van Chroompark het verlede Donderdagoggend naarstiglik probeer om ‘n brand by ‘n huis in Goudstraat te blus in die vroeë oggendure.

Nadat die Mogalakwena brandweer Woensdagaand vir hulp genader is, is daar aan inwoners te kenne gegee dat die brandweerpersoneel om 23:00 van diens af gaan en dan eers die volgende dag om 06:00 aanmeld vir werk.

‘n Inwoner van die huis is met geringe beserings na ‘n hospitaal in Polokwane geneem vir behandeling, terwyl die huis tot op die grond verwoes is in die brand, met die motorhuis as enigste uitsondering.

Die oorsaak van die brand moet nog bepaal word.

Volgens Corinus du Toit, DA-raadslid en koukusleier van die Waterberg Distrik Munisipaliteit (WDM), is dié huis wat afgebrand het, nie die eerste eiendom waar die plaaslike brandweer “jammerlik in hul brandbestrydingsfunksie misluk nie”.

“‘n Vorige voorbeeld was Squirrel’s Nest aan die buitewyke van die dorp waar die brandweer geskitter het in hul afwesigheid met verskonings wat wissel van ‘dis buite ons gebied’ – wat natuurlik totale snert is, tot ‘dis buite ons diensure’, wat veronderstel is om 24 uur aan diens te wees.”

Du Toit sê die Waterberg Distriks Munisipaliteit (WDM) is oorhoofs verantwoordelik vir brandbestryding in die distrikte soos Thabazimbi, Bela-Bela, Modimolle, Lephalale en Mogalakwena.

Du Toit het op 11 Julie as DA-raadslid, by die WDM ‘n formele klag oor dié swak dienslewering by die munisipale bestuurder, Preciousstone Raputsoa, ingedien.

“Die dringendheid van die saak het my genoop om die klagte telefonies in te dien en dit is opgevolg met ‘n formele skrywe van beswaar. Die munisipale bestuurder het onderneem om die gebrek aan dienslewering deur die brandweer deeglik te ondersoek en dat daar dissiplinêr teen die skuldiges opgetree sal word.”

Du Toit voeg by dat hy sal verseker dat die skuldiges verantwoordbaar gehou gaan word.

Die munisipaliteit en plaaslike brandweer het nie op ‘n versoek tot kommentaar gereageer nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button