Dezi (9) het Mokopane se hulp nodig

Dokters het Dezaray van Huyssteen aanvanklik met ‘n virus gediagnoseer en behandel, maar sy het nie beter geword nie.

MOKOPANE – Dezaray van Huyssteen, beter bekend as Dezi, is ‘n liefdevolle negejarige meisie wat die stryd van nierversaking in die gesig staar, en sy en haar gesin benodig dringend ondersteuning van die publiek.

Sy is reeds sedert 2022 in en uit die hospitaal.

Dokters het haar aanvanklik met ‘n virus gediagnoseer en behandel, maar sy het nie beter geword nie.

Sy is uiteindelik na Unitas Hospitaal waar ‘n biopsie op haar niere gewys het dat langdurige medikasie en infeksie waarskynlik skade aangerig het.

Sy is in Februarie in dieselfde hospitaal opgeneem met geweldige hoë bloeddruk, en is later verskuif na die intensiewesorgeenheid met ‘n nierfunksie van 30%.

Die uitslae van ‘n tweede biopsie het gewys dat haar niersiekte immuungemedieer is en medikasie is voorgeskryf. Sy is uiteindelik met nierversaking gediagnoseer.

Sy is volgende medici ‘n hoërisikopasiënt en sal maandeliks hospitaal toe moet gaan, vertel haar ma, Makkie van Huyssteen.

“Dezi is in Junie weer opgeneem met nierfunksie van 19% en sy was vir 10 dae in intensief. Die derde biopsie het getoon dat haar niere verhard het, en sy is tans afhanklik van ‘n daaglikse 12-uur dialisesessie tot en met ‘n nieroorplanting gedoen word.”

Die proses van ‘n geskikte skenker is reeds op Makkie gedoen, en dinge lyk belowend.

“Daar is egter nog baie toetse wat gedoen moet word, wat finansieel ‘n groot las is. Die kroniese gedeelte van die mediese fonds dek die meeste van Dezi se mediese uitgawes. Die fonds vereis wel ‘n bedrag van R30 000 om vir my as die skenker op die kroniese gedeelte te plaas. Die hele prosedure en sorg gaan in Pretoria plaasvind, en ons sal ook sielkundiges as deel van die proses moet sien.”

Dezi se toestand behels gereelde hospitaalverblyf, mediese behandeling ook die aanskaf van duur medikasie en ‘n streng eetplan.

Jou ondersteuning kan ‘n daadwerklike verskil maak in Dezi se stryd vir gesondheid en ‘n normale kinderlewe.

Daar is ‘n BackaBuddy rekening geskep vir mense wat bereid is om ‘n finansiële bydrae te lewer.

Kontak Henriette Williams by 081 759 8661 vir meer inligting.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version